Ekwipt met Letitia


So twee jaar terug ervaar ek dat Abba dit op my hart begin plaas om Sy kinders te begin toerus met my pad en die lesse wat Hy my geleer het tot hier. Vandaar het ek die aanbieding op die blog en sy sosiale media bladsye stelselmatig begin aanpas om ook daarvoor plek te maak. Julle sal dit orals raak lees en sien, ‘n klomp maniere wat mense help om die dieper en meer in God te ontdek. Dit sluit onder meer in skrywes en videos op die Blog, Facebook, Facebook Geslote Groep, Instagram en Youtube.

Dankie dat julle hier is en dat dit vir julle ‘n prioriteit is om hart-tot-hart-konneksie met God te vind en te bly naspoor. Daar’s niks soos dit! Dit is waarvoor ons gemaak is! 

Blogs en toe ook Vlogs…

Die tyd het aangebreek! Oor die laaste jaar veral raak dit vir my duidelik … dit is tyd vir video! Ek kan nie meer wegskram as Abba sê nou. Dit was die begin van Facebook Live Videos op Anker van Hoop se Facebook Bladsy onder die naam LEWE IN OORWINNING. As enige van die onderstaande temas met julle harte praat, kyk hom!

Die 1ste video praat met die swart skape (hulle wat bittermin of glad nie hoop het dat God nog iets wonderliks in en deur hulle lewens kan of wil doen nie) en almal tussen-in!

In die 2de een gesels ons oor identiteit, sooo gereeld ‘n enorme struikelblok op die pad van intimiteit bou met God.

Met die 3de een vind ons meer uit oor die goud van gehoorsaamheid en leer die wonderlike vrou Wysheid beter ken.

In video 4 praat ons oor die getrouheid van God veral in seisoene van die lewe waarin ons dit die meeste betwyfel.

2021 en verder…

In 2021 is ons eie Youtube Kanaal INTIEM MET GOD  en weeklikse Toerus Sessies in die vorm  van Facebook Lives gebore. Die sessies was eers op Anker van Hoop se hoof bladsy maar is intussentyd oorgeskuif na die Facebook Geslote Groep EKWIPT MET LETITIA … Gaan sluit gerus aan by die groep as jy die sessies tot dusver wil kyk of ook wil deel wees van die toekomstiges. Ek bid en wag op Abba oor ‘n moontlike aanlynkursus, mentorskool of meestersklasse. Soos Hy my lei en die groen lig gee sal ek die nuus met julle deel!

Ons het ook hierdie jaar ons eerste gas verwelkom op ‘n LIVE sessie. Dit was oorspronklik beplan om op Facebook te gebeur maar na tegniese probleme ondervind is moes ons dit skuif na Instagram. Kyk die gesels met Daleen Nel hier. Luister asseblief na hom soos wat mens na ‘n Potgooi luister 😉 – slegs audio – want ons internetseine het swaar gekry met ‘n hewige reënbui! 

Ek sal graag meer met mense wil gesels wie se liefde en wandel saam met God inspireer. Hulle stories en raad van veral hulle vroeë dae saam met God is iets waarop ek sal wil fokus want ek vermoed dat baie mense dikwels op dié plek saam met God huiwer omdat daar soveel struikelblokke is om veral dan te oorkom. Dis in die begin dae van ons verhouding bou met God dat ons nog nie rerig besef hoe getrou God is en hoe geliefd ons is in Sy oë nie. Dis lesse wat met tyd kom. Kosbare lesse om te leer daai. En hulle bly toeneem… 

Weet een ding kind van God … Hierdie net-soos-die-Heilige-Gees-lei-toerus-sessies is genade van Bo. Ek sê aan Abba baie dankie vir hoe Hy hierdie video’s moontlik maak en dat Hy regtig harte aanraak en groei in verhouding met Hom. Ek ondervind dit so! Dankie ook aan die wat my laat weet julle stem saam.

Hou Ekwipt met Letitia dop en floreer in verhouding met Abba, my gebed vir elkeen van ons!

Nog so ‘n laaste stuk nuttige inligting: 
Daar is ook ‘n Engelse Platform King of Kings Blog met sy eie Facebook, Instagram en Toerus Groep.  

ANKER VAN HOOP | INTIMITEIT MET GOD

Hallo daar! 👋

Wil jy graag 'n gids met 10 sleutels wat jou gaan help om te blom in verhouding met God ontvang? Sluit dan vandag aan by ons E-pos Lys. Ons beloof e-posse wat jou inspireer en toerus!

Ons stuur nie rommelpos nie! Jy kan
enige tyd jou subskripsie kanselleer.