Die Bron & Die Instrument
Hy antwoord toe: “Ja liefste kind dit is so. Abba het ‘n spesifieke plan en doel met jou lewe maar Ek wil jou vra om die goeie nuus ook met jou boeties en sussies in My te deel. Vertel vir hulle kind dat ook hulle kan hê wat Ek en jy het. Ek wil graag hê dat hulle ook op My skoot sal kom sit.” Ek het Sy diep verlange, Sy warm uitnodiging aan alle mense op aarde so ervaar. Hy het my ook gevra om vir julle te sê dat dit vir almal is, nie net ‘n gekose paar. Almal wat sal vra vir meer.
Hierdie bediening is gebore uit geloof, gehoorsaamheid en genade sê ek altyd. So sê ek want dis ons storie. Geloof en gehoorsaamheid van my kant, groot genade van Abba wat my tot en met vandag in 2025 – meer as twaalf jare later – steeds vashou en dra in Sy roeping vir my lewe.
Aan die einde van 2012 het Abba my gevra om “uit die boot te klim”, te bedank waar ek in die besigheidsveld gewerk het, en om hierdie geloofspad in oorgawe en vertroue saam met Hom te begin stap. Jare van baie groei en leer het gevolg. Jare waarvoor ek baie dankbaar is al was hulle meestal nie maklik nie. Romeine 8:28 kom by my op. Prys die Heer!
Met die uittree het Hy my beloof, Hy sal vir my gee wat om te skryf. So is daar toe aan die begin van 2013 ‘n Engelse Blog en toe later daai jaar ook ‘n Afrikaanse Blog gebore. Ek deel die woorde daarop met julle want ek glo dat dit Sy wil is.
“Wanneer Hy ook al kom, die Gees van die waarheid, sal Hy julle begelei in die volle waarheid. Hy sal nie uit Homself praat nie, maar net sê wat Hy hoor. Hy sal die dinge wat gaan kom, aan julle meedeel. Hy sal My verheerlik omdat Hy dit wat Hy van My sal ontvang, aan julle sal meedeel. Alles waaroor die Vader beskik, behoort ook aan My; daarom dat Ek gesê het: ‘Wat Hy van My ontvang, sal Hy aan julle meedeel.’”Johannes 16:13-15
Dit is my hart om die Here se roeping vir my lewe te gehoorsaam en die liggaam van Christus te dien met die gawes wat Hy aan my gegee het. Jesus is die alfa en omega, geen geestelike persoon of platform nie so kom ons kyk altyd saam na Hom! Sy verhouding met jou en jou verhouding met Hom, dit is prioriteit.
Soveel Christene ken nog nie ware hart-konneksie met God nie of hulle weet nie eers dat dit die reis is waarop Abba elkeen van ons wil neem nadat ons ‘n ontmoeting met die Kruis van Golgota gehad het en ons tot bekering gekom het nie. Dis hoekom ek hier is, om mense dit te help vind!
My gebed is dat die platforms waarmee Abba my vertrou en waar ek saam met Hom bou sal strek tot die eer van Sy wonderlike Naam en dat dit mense waarlik sal toerus om self ook te wandel in intimiteit met Hom. Als wat ek doen, doen ek met hierdie twee dinge in fokus.
Volg ons gerus op die Blogs, asook ons Youtube en TikTok kanale.
Dankie vir julle ondersteuning en gebede. Dit beteken soveel want sonder Bougenote kan ek nie hierdie werk doen of ons reik uitbrei nie. Mag ons soveel harte bereik vir God se glorie.
Liefde in Koning Jesus!
Letitia Pienewald
Dissipel van Jesus Christus | Dissipelmaker
”Hý het sommige as apostels gegee, ander as profete, ander as evangeliste, en ander as herders en leraars, om God se mense toe te rus vir hulle dienswerk en om Christus se liggaam op te bou, totdat ons almal by die eenheid van die geloof kom en by die kennis van die Seun van God, tot ons volwasse menswees, by die maat van Christus se volheid.” (Efesiërs 4:11-13)
Nota: As jy graag ‘n video insetsel wou kyk oor die begin en hart van die bediening kan jy hierdie Youtube skakel volg waar ek tydens die 2020 Covid-Lockdown met Izelle van Beeldskoon gesels het.
