Etiket: trauma+herstel

  • Onverwagse Brander

    Onverwagse Brander

    Die lewe is hard Abba
    Ongenaakbaar
    Mense maak seer
    Hulle kry seer

    Mens kan net bid
    Dis wat mens so gereeld dink
    Wat om te sê
    Wat om te doen

    Hoe om die lewe
    Ligter vir mense te maak
    Dra mekaar se laste sê die Woord
    Hoe doen ons dit?

    Doen ons dit genoeg?
    Abba help ons asseblief
    Om die wêreld se swaar
    Van mense se skouers te help haal

    Om te sien
    Om te weet
    Jesus gee om
    En Hy wil graag help

    Soveel, soveel kere
    Skiet woorde net te kort
    Wat kan ons sê?
    Wat kan ons doen?

    Om hierdie probleem
    Ligter te maak
    Ding is
    Ons kan nie noodwendig nie

    Ons kan net bid
    Dat die slae wat hierdie wêreld
    Soms uitdeel
    Mense nie sal uithaal

    Maar sal oplig
    As wonderwerke
    Met die krag en genade
    Van ons Pappa van Bo

    Die wêreld slaan hard
    My kinders
    Baie hard
    Ek weet

    Onderste bo
    Soos ‘n brander uit die bloute
    Wat julle glad nie gesien kom het
    Hoe kry ek weer my houvas

    As die grond onder my mee gegee het?
    Alle vaste fondasie het verdwyn
    Ek trap water!
    Waar is die vastigheid onder my!?

    En dan sluk jy water
    En jy verdwyn
    En jy wonder
    Hoe gaan ek dit maak?

    Hoe gaan ek oorleef?
    En dan skielik
    Skielik is die vastigheid weer daar
    Ek voel dit

    Ek vind dit
    Die vastigheid is daar!
    Soms My kinders
    Soms word julle van julle vastigheid beroof

    Die branders kom
    En stamp en stoot julle
    Van julle voete af
    Net soos tipiese branders van die aarde

    Was julle al in die see?
    Het julle al daarin rond geswem?
    Hoeveel kere
    Het hulle al julle ewewig gekos?

    Ja die een oomblik
    Staan julle nog
    En die volgende oomblik
    Het julle koppe onder die water in verdwyn

    Ek is die lewensredder
    Sê Abba
    Wat My kinders altyd sal red
    Ja baie kere sien Ek

    My kinders is katswink geslaan
    Bewusteloos dryf hulle rond
    Soos ‘n drenkeling
    Opsoek na lewe, opsoek na hoop

    My kinders
    Ek sien
    Ek weet!
    Ek kan die “golwe” van hierdie wêreld nie altyd keer

    Maar Ek kan seker maak jy weet
    Ek is hier!
    Soos ‘n drenkeling sonder dryfhout hoef jy nooit te wees
    Ja soms dobber jy vir dae in die donker

    Jy wonder hoe gaan ek oorleef
    Hoe gaan ek dit maak?!
    Het God van my vergeet?
    Godsverlate dis hoe baie mense hier begin voel

    Die haaie begin om jou draai
    Hulle soek jou bloed
    Dis hier waar die vyand rerig vir jou lieg
    Jy is alleen, niemand gee om vir jou

    Maar dan kom die dolfyne
    Die mense wat omgee
    Die mense wat dra
    Die mense wat liefhet, wat die haaie verjaag

    Hulle kom verbind die wonde
    Hulle kom maak die seer sag
    Hulle kom vee die hare en sand weg uit julle oë
    Hulle kom fluister in jou oor

    Hou moed
    Môre sal die son weer skyn
    Hou moed
    Jesus is nog daar

    Ek weet My liefste kinders
    Ek weet
    Die lewe kom deel soms uit
    Harde, onverdiende slae

    Tog wil Ek dat julle sal weet
    Ek is groter as die grootste seer
    Ek is groter as die grootste slae
    Ek is groter

    Ek is groter as die grootste brander
    Wat ooit jou voete onder jou kan uitslaan
    Wanneer die lewe kom en hy gebeur…
    Weet, Ek is die vastigheid

    Wat weer die bestendigheid
    Onder jou voete sal kom plaas
    Stadig en seker
    Soos wat jy trap-trap, voel-voel

    Waar is die vastigheid
    Beweeg links
    Beweeg regs
    Voel-voel

    Vorentoe voel
    Agtertoe voel
    O ja, okay hier is hy!
    Die sandduin in die middel van die oseaan-water

    Daar is hy!
    Ek het hom gevind
    Vastigheid onder my voete
    Die Rots wat nie kan verdwyn!

    Al swel die water soms en is onbeheers
    Sterk is daar ‘n Anker in die lewe
    Wat ons bo hou
    Anker van Hoop sê sommiges soms

    Die een waaraan ons kan hou, al is dit soms klou
    Geanker in Jesus as storms om my gaan
    Net soos die liedjie sê
    In Sy krag, sal ek bly staan!

    Vat hoop My kinders
    En weet
    Die EK IS
    Is met julle

    Amen.