Etiket: vrees+vir+God

  • Waarlik-wil

    Waarlik-wil

    Saggies praat U
    So saggies
    Partykeer hoor ek U
    Partykeer glad nie

    Dis asof U stem
    My bly ontwyk
    Hoe werk dit Daddy
    Kan ons U rerig nie somtyds hoor?

    Daar’s soveel vrede Pappa
    Soveel vrede in U te vind
    Selfs al hoor ek U nie altyd
    Kan ek so gereeld U vrede om my voel vou

    Dankie Pappa
    Daarvoor
    Dat U in die stilte en rustigheid is
    Wat ons in die wêreld vind

    Partykeer mis ons dit
    Boetie, sussie
    So gereeld wat dit gebeur
    Dat ons nie ‘n tydjie vir stil-sit het

    Dis iets wat ons so gaan moet leer
    Ons gaan gewoond daaraan moet raak
    Want dis al hoe ons Pappa se stem
    Waarlik sal hoor

    Daar’s soveel stemme
    Kind van Abba-God
    Wat baie kere in hierdie wêreld
    Met ons praat

    Partykeer verloor ons dit
    Ons verloor ware rigting
    Omdat ons na die verkeerde stemme luister
    Omdat ons nie ag gee op wat Daddy sê

    Oe Pappa se kinders
    Regtig-egtig
    Ons sal moet begin stil-word
    Ons sal moet begin om stilte lief te kry

    Vir my was dit vir jare
    Net so baie vreemd
    Ek wou net aanhou weghardloop
    As iets vir my wou sê dis tyd vir stil-raak

    Ek weet nie
    Ek weet nie
    Dalk is dit omdat ons nie van introspeksie hou
    Ja om onsself waarlik in die oë te kyk

    Daar’s baie dinge
    Sê Daddy-God
    Wat die wêreld se mense
    Bly jaag

    Liefde vir hulself
    Bo die van vir ander mense
    Daar’s min mense wat hulself en hulle verkeerd-doen
    In die oë kan kyk

    Mense is besig sê Daddy-God
    Want die wêreld leer hulle so
    Nooit is daar tyd vir stil-raak
    Kom ons hoor wil God dalk iets sê

    Liefste kinders
    Van Pappa se hart
    Kan Ek net vir julle sê
    Daar is soveel vrede by My te vind

    Liefste-liefste kinders
    Sê Daddy-God sag
    Kom net nader aan My
    Asseblief kom vind waarvan Ek praat

    Dis so gereeld
    Sê Daddy-God
    Dat julle die wêreld toelaat
    Om julle te verveel

    So dikwels sê Pappa-God
    Ek kan sien
    Vertel sy vir jou oor en oor
    Doen dieselfde ding

    Oe kinders van Pappa
    Liefste-liefste kinders
    Hoekom is dit so
    Hoekom verloor julle julself so gou in wat sy vir julle sê?

    Julle is so verkeerd
    Liefste kinders
    Pappa wil dit graag vir julle sê
    Kom vind asseblief uit dat Ek waarheid is

    My hart is sag
    Liefste dogter, liewe seun
    Maar hoe, hoe gaan julle dit vind
    As julle nie nader aan My kom

    Die wêreld leer julle kinders
    Bly vêr weg van God
    Hy wil nie met julle praat
    Julle is nie goed genoeg vir Hom

    Liefste kinders
    Sê Daddy-God
    Ek weet, Ek kan sien
    Julle is so bang vir My

    Baie van julle My liefste-liefste kinders
    Sit met diep-gewortelde vrees
    Vrees oor wie Ek is
    Vrees oor of Ek jou rerig liefhet

    Oe Pappa se kinders
    Kinders van My hart
    Daar’s soveel mure van vrees om julle harte gebou
    Vrese wat My uithou

    Ek wil net vandag vir julle kom vertel
    Kinders Ek wil julle kom herinner
    Pappa-God
    Is so baie lief vir julle

    So baie lief vir julle
    So baie lief
    Ek wens Ek kon julle meer vertel
    Ek wens Ek kon julle kry om dit waarlik te glo

    Dis iets wat julle so so maklik sê
    Sê Pappa-God
    Maar dis iets wat julle
    So min glo

    Kinders
    As julle waarlik geglo het
    Pappa-God is vir julle
    Hoekom is dit so swaar om stil te raak, om My stem te hoor?

    Oe liefste kinders
    Sê Daddy-God
    Ek nooi julle om rerig te kom hoor
    Hoe God oor julle voel

    My hart vir julle
    Swel van trots sê Pappa
    So baie sê Daddy
    So baie

    Oe Pappa se kinders
    Julle is goed genoeg
    Net soos julle is
    Sommer so sonder voorgee

    Julle vergeet so gereeld
    Sê Daddy-God
    Dat julle nie voor My ‘n prentjie hoef op te sit
    Ek weet wie elkeen diep binne is

    Daddy-God se kinders
    Myne
    Kom asseblief nader aan My
    Kom laat Ek jou vertel hoe Ek oor jou voel

    My hart swel
    Liefste kinders
    Swel so groot
    As Ek net sien julle wil My leer ken

    Baie kere sê Pappa-God
    Wat die wêreld julle verkeerd wil leer
    Maar julle net aanhou om te sê
    Nee ons sal Pappa self vind

    Vir elkeen van julle
    Liefste kinders
    Sê Daddy-God
    Wil Ek vandag diep dankie sê

    Dankie, dankie
    Daddy se kinders
    Vir nie moed-opgee
    Wanneer Daddy so van julle vra

    Dis nog iets sê Daddy-God
    Wat My hart so diep bly maak
    Julle wat kom uitvind wie Ek is
    En dit dan met die wêreld deel

    Oe ja-nee sê Pappa
    Daar’s min dinge wat My blyer maak
    As jy wat jou liggie
    Vir God se Koninkryk laat skyn

    Min dinge sê Daddy
    Min dinge wat My blyer maak
    Dit beteken vir My so so baie
    As ons nog kinders deel van My Koninkryk kan kry

    Want dis mos maar al wat gebeur
    Sê Daddy-God
    Wanneer mense jou liggie sien wat so mooi skyn
    Dit nooi hulle nader aan My

    Ek wil ook hê
    Liefste kinders
    Dat julle altyd sal weet
    Pappa sien julle

    Pappa sien julle waarlik
    Liefste kinders
    So gereeld
    Oor-en-oor

    Dis iets sê Pappa
    Waaroor julle eintlik nooit hoef te wonder
    Net omdat julle My nie almal sien of ervaar
    Beteken nie dat Ek nie naby is

    Ek wens mense kon sien
    Sê Daddy-God
    Ek wens hulle kon rerig ervaar
    Hoe baie Ek omgee

    Daar’s mense sê Pappa-God
    So baie mense
    Wat so baie gereeld
    Hieraan twyfel

    Oe Pappa se kinders
    Ek nooi julle
    Ek nooi julle waarlik
    Kom vind My

    Mense sê Daddy-God
    Wat al My nabyheid by hulle ervaar het
    Hulle weet dat daar niks beter is
    Hulle wil net meer en meer en meer daarvan hê

    Dit is soos
    Hulle wil dit konstant indrink
    Hulle wil daarin swem
    Hulle wil My ken

    Oe Pappa-God se kinders
    Die vra kom diep uit My hart
    Sal julle My asseblief
    Groot asseblief liewer kry

    Ek vra die kleinste treëtjies sê Daddy-God
    Die kleinste fynste treëtjies
    Wys My asseblief net
    Dat julle waarlik wil

    Ja-nee sê Daddy-God
    Dit is so
    Daar is iets aan waarlik-wil
    Daar is iets aan jy wat dit bedoel

    Oe Pappa se kinders
    Dit is maar die vra van My hart
    Sal julle nader beweeg
    Sodat ook julle konstant van My teenwoordigheid bewus kan wees?

    Pappa-God se kinders
    Asseblief luister vir my
    Vir my was dit ook jare so
    Ek was nooit van God se nabyheid bewus

    Vir jare en jare het Satan ook vir my
    So alleen laat voel
    So alleen en verlore
    In hierdie groot plek wat ons die aarde noem

    Vir jare was ek ook nie bewus
    Dat God nader as my asemhaling aan my was
    Dis iets wat my hartseer maak soos ek terugdink daaraan
    Dis iets waarvoor ek vandag so dankbaar is

    Ek het nooit-ooit geweet
    Kind van Pappa-God
    Dat Daddy die woorde hoor
    Wat ek nog net in my gedagtes dink

    Ek het nooit geweet
    Dat Hy omgee daaroor
    Ek het nooit geweet
    Dat Hy so graag verhouding tussen ons twee se harte wou bou

    Vir jare was ek soos ‘n bootjie
    Wat op die groot waters van die lewe
    Ronddobber
    Sonder enige ware anker in die lewe

    Ek weet dat baie van julle
    Liewe boetie en sussie
    Ken waarvan ek nou praat
    Julle weet want dis ook hoe baie van julle nou al vir jare voel

    Ag ek wou maar net
    Sê Daddy se kind
    Vir julle met hierdie woorde
    Hoop kom gee

    Dankie Daddy se kinders
    Vir julle wat weet
    Iewers daarbinne … daar is meer
    Dat julle nader kom

    Vertel My jou hart
    Sê Daddy-God
    So gereeld
    Is dit Sy vra

    Het julle geweet
    Kinders van God
    Het julle dit al gevind
    Dat ons alles maar alles met God kan deel?

    Dis nog iets sê Daddy
    Nog iets
    Wat My hart so verskriklik bly maak
    Wanneer My kinders My hart begin vertrou met dit wat vir hulle saak-maak

    Nooit-ooit sê Pappa-God se kind
    Het ek dit geweet of geglo
    Dat Daddy mens se laste
    So lig kan maak soos wat Hy doen

    So deur die jare
    Boetie en sussie
    Kon ek al leer
    Dis so goud, so goud om my alles met Hom te deel

    Ja sê Pappa se kind
    Veral die goed
    Veral die goed waaroor ek die skaamste kry
    Waaroor Satan my die slegste laat voel

    Vir jare sê Daddy se kind
    Kon ek dit nie deel
    Ek kon nie openhartig met Daddy daaroor praat
    Want ek het so skaam daarvoor gekry

    Dis nou die slegte punte
    Kind van God
    Dis nou die slegte punte in my en jou
    Waarvan ek praat

    Ek kon nie my swak punte met Hom deel
    Ek het so skaam gekry
    Ek wou perfek wees, als reg doen
    Dan sou ek beter voel om in Sy teenwoordigheid te kom

    Vir jare was dit so
    Vir my beslis
    Ek kon my net nie kry
    Om waarlik Sy liefde en volle aanvaarding van My te glo

    Ja dit is mos maar so
    Boetie, sussie, kind van God
    Ons voel darem ‘n bietjie beter oor onsself
    As ons ‘n paar dinge baie mooi regkry

    Ag ek weet nie
    Sê Daddy se kind
    Ek weet nie hoekom dit so is
    Ek is net so bly ek kon al bietjie vryheid in hierdie area vind

    Ek is so bly
    Ek is so bly
    Sê Daddy se kind
    Dat Daddy-God se liefde sonder vereistes van performance is

    Want ek weet nie
    Ek dink nie
    Ek dink nie ons sou ooit
    Daar naby kon kom

    Nie sonder Jesus
    In my en jou nie
    O nee dit is beslis
    Ek wonder of mense dit weet

    Soos in rerig weet
    Rerig glo
    Vir my was dit net woorde
    Ja vir baie jare

    Dis soos
    Ons soek die geregtigheid wat in God is
    Maar ook die wat in onsself is
    Ja dis nou die kere wat ons goed voel oor als wat ons regkry

    Kind van Pappa-God
    Ek sê nie ons moenie trots voel
    Op Daddy-God en Sy groei in ons nie
    Ek sê ons moenie groot-koppie kry nie

    Want ja-nee sê Pappa
    Dit gebeur gereeld
    Mense wat so goed voel oor wat hulle regkry saam met My
    Dat hulle op ander mense begin neerkyk

    Onthou net altyd
    Liefste boetie en sussie in Jesus
    Deur genade is ons gered
    Dis deur genade wat ons bly staan

    Partykeer sê Daddy
    Partykeer
    Raak julle so vol oor wat julle saam My regkry
    Dat julle genade vir mense maar baie flou is

    Liefste kinders
    Sê Pappa
    Liefste kinders
    Asseblief wees mercy aan die mense wat om jou is

    Wees maar eerder mense
    Wat bemoedig en opbou
    Meer as wat julle mense is
    Wat net kritiseer en fout-soek

    Dis mos maar hoe mense weet
    Sê Daddy-God
    Dat julle aan My behoort
    As ons lewens dieselfde eienskappe dra

    Ek sê nie jy gaan dit altyd regkry nie
    Kind maar Ek vra
    Maak dit die diep begeerte in jou hart
    Om soos Ek te wil wees

    Oe ja kind
    Oe ja sê Daddy
    Dit is nog iets wat My hart
    So baie bly maak

    Jy wat My glo
    Baie meer as wat jy die wêreld glo
    Dis ‘n journey kind
    Een waarop Ek jou graag wil neem

    Dieper en meer
    Liefste kinders
    Sê Daddy
    Dis altyd My hart om julle geloof in My te laat groei

    Vir baie sê Daddy
    Begin dit klein, baie klein
    Soos met ‘n mosterdsaad
    Maar het jy al gesien kind hoe groot boom word daai saad

    Pappa se kinders
    My vra is dit
    Asseblief leer My ken
    Beter as wat jy nog ooit het

    Boetie en sussie
    Baie dinge het in my lewe gebeur
    Baie dinge vandat ek Jesus ingenooi het
    En waarlik ‘n pad met Hom begin stap het

    Nie speel nie
    Kinders van Abba
    Kinders van die wêreld
    Maar die real deal

    Dis hoekom ek in die ding is
    Boetie en sussie
    Dis hoekom ek tot en met vandag nog waarlik glo
    Want ek het gevind hoe eg God waarlik is

    Ek dink sê Pappa se kind
    Dis hoekom baie mense nog godsdiens speel
    Kerk-kerk
    Of is dit Christenskap

    Boetie en sussie
    Ek weet nie
    Ek weet net daar is nog baie boeties en sussies in Christus
    Wat Daddy se goedheid nog waarlik moet proe

    Vir jare en jare was dit ook ek
    Boetie en sussie
    Lou vir ‘n vale
    Lou vir ‘n vale

    Tot Daddy op ‘n dag vir my kom fluister
    Is Ek waarlik die liefling van jou siel?
    Koud-koud
    Het ek my op daardie dag geskrik

    Sien sê Daddy se kind
    Want tot op daai dag was woorde net woorde
    Ek het nie eers meer besef of bedoel
    Die woorde wat ek sing

    Vir baie van ons
    Boetie en sussie
    Is dit presies net so
    Wat ons glo het ‘n rympie geword wat ons oor en oor opsê

    Die betekenis
    Het ons of lank terug verloor
    Of ons het dit
    Nooit rerig besit

    Oe Pappa se kinders
    Ek weet nie, ek weet nie
    Waar ek ooit sonder Jesus sou wees
    My hart wil nie daaraan dink

    Vandag wil ek jou bemoedig
    Boetie en sussie in Christus
    Ek en die Heilige Gees
    Leer God ken

    Kom vind uit
    Kinders van Pappa-God
    Net presies hoe eg
    Hierdie wonderlike God van ons is

    Hy is die mooiste woorde
    Saamgebind en asem ingeblaas
    Die mooiste woorde
    Wat lewe kry

    Pappa my hart is dankbaar
    So so dankbaar
    Vir U liefde
    Wat my kom haal het en my vandag steeds so mooi oppas

    Pappa ek wil net
    U kind wees
    Nou en veraltyd
    Ek wil net vir altyd naby aan U wees

    Dankie Daddy
    Dat dit ook U diepste hartsbegeerte is
    Om nooit op te gee
    Om aan te hou probeer

    Pappa se kind
    Net soos Daddy daai jare
    Aan my hart kom klop het
    Doen Hy tot en met vandag steeds dieselfde

    Asseblief boetie en sussie
    Sal julle Hom nader nooi
    Die wat Hom ken van weet
    Die wat Hom glad nie ken

    Sal julle Hom asseblief
    Net nader nooi
    Sal julle begin sien
    Dat Hy waarlik so baie mooi is

    Asseblief Pappa se kinders
    Asseblief die wat Hom nie ken
    Gee Hom net ‘n kans
    Asseblief begin Hom dieper nooi

    Hy is so mooi
    Liefste kinders van Pappa
    Die van die wêreld
    Jy kan my woord daarvoor vat

    Julle harte
    Sou Hy verstom
    As julle Hom
    Net ‘n ware kans wou gee

    Amen.

    Laat weet gerus as hierdie posstukkie met jou hart gepraat het. Ek hoor graag van jou! ~Letitia