In U arms voel ek altyd veilig
Ek weet dis U wie my omring
In die dag, ook in nag
Wanneer ek my kop neerlê
Vader partykeer raak ek ook bang
Dan kom U woorde weer
Klop met vertroosting aan my hartsdeur
Jy is My kind, in vrede kan jy maar gaan slaap
Vader daar is baie dinge
Wat die rustigheid in my hart wil kom steel
Moord, doodslag en soveel oorloë Heer
Tog wil ek U sien bo alles wat dreig om vrede in my hart te onttroon
Vader gee aan my genade
Om altyd te weet
U is daar!
Soos U in U Woord vir my sê
Psalm 23 sê U is my Herder
U sal my nooit verlaat
Al gaan ek deur ‘n dal van dood-skaduwee
U is baie naby
U is my God
U is my sterk Anker
Die Rots wat nooit nie kan vergaan
Die Een op wie ek vir altyd kan staatmaak
U is my God
Ek loof en prys U naam
U sorg beter vir my
As wat ek of enige iemand ooit kon
Daarom wil ek altyd my oë op U bly hou
Wanneer vrese kom om my te oorweldig
Help my om nie in te gee nie
Standvastig op die Rots Jesus Christus te bly staan
Ek erken en ek bely
Dit is moontlik net deur U
Deur die storms van die lewe
U het my nog altyd bly dra
Ook in die toekoms
Sal U daar wees
U belowe om my nooit ooit te verlaat
Dit bly vir my die mooiste belofte Heer.