Soos ek terugkyk op my pad saam met die Here onthou ek hoeveel kere ek ongemaklik was om vir God te gaan kuier omdat ek skaam gekry en sleg gevoel het. Ek sou na my eie prestasies kyk, byvoorbeeld hoe ek die vorige dag opgetree het, hoeveel dinge ek reg of verkeerd gedoen het. Soos ‘n skaal julle weet myself mooi opweeg en dikwels is ek te lig bevind.
Dit het my vrymoedigheid gesteel en ek het regtig nie gedink dat God tevrede of beindruk sou wees met my nie. Sien ek het so half ‘n pakslae of teregwysing van Sy kant verwag. Maar wat ek deur die jare meer besef en geleer het is dat daar ‘n probleem was met die opname van my. Sien want wanneer ons so optree kom ons eintlik in onsself voor God en nie ten volle in of deur Jesus en Sy perfekte oorwinning behaal aan die Kruis van Golgota nie.
Onbewustelik en baie subtiel maar tog presies net so en dit liewe kind van God belemmer nogals dieper groei saam met God. Kan ek jou herinner … God weet presies hoe feilbaar en sondig ons vlees is. Dit verras Hom geensins soos vir ons nie. Al wat Hy vra is dat ons sal aanhou kom na Hom. Want sien dis Sy lieflike teenwoordigheid wat ons op die mooiste maniere bly transformeer om Jesus te reflekteer.
Weet vandag … God kyk nie na ons en ons prestasies wanneer ons vir Hom gaan kuier nie. Hy kyk na die opregtheid in ons harte en hoe ons deur die oë van die Golgota-prys vertoon. As jy sukkel hiermee, hier is ‘n stukkie goue raad. Bid die volgende voor jy Stiltetyd begin en glo dit met ‘n volkome hart:
“Hemelse Vader ek kom deur Jesus Christus se bloed en naam alleen. Baie dankie vir wie ek is in Hom. Goed genoeg vir U. So baie welkom in U teenwoordigheid. Nou en altyd. Amen.”