Ek hoop dit gaan ongelooflik goed met julle elkeen.
In my hart ervaar ek dat Abba wil hê ek moet die volgende FLOW night met julle deel. Kyk dit asseblief en onthou … Hy is waardig, Hy is liefde. Sy goedheid met Jesus se koms het dit vir altyd bewys!
Onthou gerus, julle kan LIVE saam met my kuier op die FLOW aande en ook tydens die Potgooie saam met die gaste. Vra gerus vrae in die kommentaar boksie dan antwoord ons dit vir julle soos die Heilige Gees lei.
Hou aan om Jesus se hand vas te hou en saam met Hom te groei. Hierdie wêreld het dit nodig!
Ons lewe in uitdagende tye en ek besef, weet … dit kan soms moeilik raak om hoop en geloof te behou as die golwe van die lewe teen die rotse van ons geloofshuise slaan. Kan ek julle oë saam met myne vir ‘n oomblik laat terugflits na die Kruis? Die Kruis waar Oorwinning vir altyd deel gemaak is van elke kind van God se lewe. Die krag om te oorkom omdat Jesus self saam met elkeen van ons in ons lewensboot is. Ons sal nie sink nie boetie en sussie want Jesus is die fondasie op wie ons huise gebou is. Genade beloof … die golwe kan maar kom, die lewensstorms kan woed, in Hom is en sal ons altyd oorwinnaars bly.
Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.
Romeine 8:37-39
Jesus ons sê vir U so baie dankie daarvoor. Wanneer die golwe hoog raak, wanneer julle seker is julle begin sink … Asseblief! Asseblief onthou, ons Lewensredder loop op water! Kry net vir Jesus in fokus, hou Hom daar, hou Hom in oog! Soos Petrus sal Hy ons help om saam met Hom op water (dit is die uitdagendste situasies van hierdie lewe) te loop.
Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly. Ons oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig.”
2 Korinthiërs 4:17-18
Ek dink aan elkeen wat seer het, wat swaar trek. Laat weet my asseblief in die kommentaar boksie as daar iets is waarvoor ek saam met jou kan bid.
Baie dankie dat julle hier is, dis vir my so ‘n voorreg en lekkerte om julle te hê! Dit gesê en met die “Protection of Personal Information (POPI) Act” of te wel POPIA wat onlangs in werking getree het in gedagte wil ek julle die geleentheid gee om julle intekening te kanselleer sou julle dit verkies. Volg net die unsubscribe skakels in die e-pos of op die blog self. As julle wil aanhou om e-posse van Anker van Hoop te ontvang hoef julle niks te doen nie, julle sal op die verspreidingslys bly.
Dan vir die GROOT NUUS! Dit mag dalk redelike ou nuus wees dat ek ‘n passie in my hart het om julle en enige ander belangstellendes te help om by God se praghart en die eindelose skatte daarbinne uit te kom 😉 maar die nuus dat Anker van Hoop nou sy eie Toerus-Stasie het op Youtube en LIVE Vrae & Antwoorde Sessies op Facebook begin het is splinternuut! Video is ‘n definitiewe platform waarheen ek ervaar Abba ons meer en ook in lei so ek wil net gehoorsaam wees. Dit is nuwe grond vir Anker van Hoop maar saam met Abba dolwe ons hulle om. Ons gaan saam met Hom oes! Gaan volg ons asseblief op ons Youtube Kanaal “INTIEM met GOD” en kuier elke Dinsdag aand vanaf 19:00 tot 20:00 saam met my op ons Facebook bladsy wanneer ons interaktiewe toerus-sessies gebeur. Sal jy my asseblief help om ons reik te groei deur jou sfeer die nuus mee te deel? Mag die naam van Jesus verheerlik word, nog meer, op aarde net soos in die hemel. Amen!
Hiermee het ons dan aan die einde gekom van ‘n lywige stukkie brief. Dankie dat julle hom gelees het. Dit was vir my so aangenaam of weer bietjie met julle te gesels. Vertel my gerus in die kommentaar blokkie hoe dit met julle gaan. Ek sal graag wil weet, julle harte en hallo’s aanhoor.
Liefde vriende, in Jesus, tot ons weer gesels!
Letitia
Ek wil hê julle moet weet… Julle ondersteuning word so waardeer! Al is dit net deur die blogs te lees en/of die woord te versprei. Tog wil ek vra, gebede is nodig en altyd welkom. Dekking in die gees en vir God se plan om te bly geskied. Ook finansiële ondersteuning as enige stukkie van die bediening julle harte vul met hoop of help om nader aan Abba te beweeg. Veral rotsvaste maandelikse vennote. Dit stel my instaat om hierdie werk te doen en dit help ons aanbieding en impak groei! Dankie vir julle vriendelike oorweging. Ek spreek oor julle seën!
Dan wil ek vra dat jy asseblief sal oorweeg om my hande sterk te maak in hierdie pad saam Vader. Hierdie bediening en platform wil so graag Sy roeping en plan vir ons vervul. Om dit te doen benodig ek mense wat finansieël Sy missie ondersteun. Ek weet … Abba wil doen … soveel meer!
Ons hart by Anker van Hoop: 1) Inspireer mense om intimiteit met God te vind en rus hulle toe om dit te kweek. 2) Deel die goud van Sy hart en karakter met almal. 3) Kleur die wêreld prakties met God se liefde en omgee.
As dit iets is waarmee jou hart vereenselwig, asseblief ondersteun ons. Dit sal vir my so baie beteken.
‘n Ruk terug hoor ek hoe my boetie vir sy seuntjie sê: “Dis omdat jy speel waar jy nie moet speel nie.” Oomblikke vantevore het kleinding kliphard begin skree, daai tipiese o-tog-wat-het-nou-gebeur-oomblik! Wat die oorsaak was van sy pynkreet weet ek nie maar sy pappa was dadelik naderby met sy reddende hande en vertroosting.
Onwillekeurig begin ek dink aan hoe dit baie dieselfde is met ons en die Here. Hoeveel kere waarsku Sy omgee ons (ek dink nou maar byvoorbeeld aan die stil sagte stem van Heilige Gees) om nie op sekere plekke, saam met sekere mense of met sekere dinge te gaan speel nie maar ore is min of hoe sê ons nog vir die kinders? 😉
Ek onthou aan die begin van verhouding met God hoeveel kere ek verskriklik veroordeel gevoel het as ek iets in die Bybel raaklees of iemand iets sê en ek die prikkel van Waarheid voel steek. Reghelp is nooit lekker nie tot jy besef dis eintlik nie veroordeling nie maar geleenthede vir pragtige groei (sien Romeine 8:1). Dit is, tot volwassenheid in Christus. Die doelwit vir enige Christen veral as jy intimiteit met Hom wil smaak.
Met lesse geleer kan ek vandag vir jou sê dis eintlik ‘n wonderlike ding om toe te laat dat God se manier jou manier konfronteer en affronteer. Dis hoe die pad van LiG en Sy glorie meer in ons lewens begin skyn. Dis hierdie lewe in oorwinning. Ek bid meer mense begin dit glo!
Elke goeie mamma of pappa op aarde wil sy kind alle onnodige seer spaar. Geen ouer gaan sy of haar kind willens en wetens die gevaar instuur. Nee hulle leer hulle veel eerder hoe om dit te vermy nie waar nie? Presies net so met ons Pappa in die Hemel.
Kom ons leer die prag van God se hart ken. Om Sy manier te vertrou bo ons eie is eintlik ‘n skat want ek meen, kan daar rerig enige iemand beter wees om ons die ropes van die lewe te leer? ♥
Hierdie blog is ook vroeër op Voelgoed se Blogwerf gepubliseer.
Wees jouself. Iets wat soms moeilik is om reg te kry wanneer jy in die heilige teenwoordigheid van die asembenewende God sit. Dis nou as jy my eerlike opinie en ervaring se terugvoer vra. Om heeltemal oop te maak en God te vertrou met wat in die binnestes van jou hart aangaan is uitdagend. Wat as daar iets is waarvoor jy moet bely? 😉
Tog is ek so dankbaar dat Abba daar is, dat Hy wel wil hê ek moet na Hom kom en dat Sy hart so sag en verwelkomend wink. Altyd. Ek dink partykeer gaan ons te vinnig oor dié tipe waarhede want hulle raak cliche‘s van te-veel-hoor en dan maak ons hulle nie ons eie nie. As ons het sou ons mos nie geslote boeke vir God bly nie?
Deur die jare het ek beslis geleer, wees net jouself Letitia, al is dit soms scary, al kry jy dit nie altyd heel gemaklik reg nie. Hou net aan. Wees jou eerlike ontblote self met Pappa want Hy geniet dit ek glo. Dis wat ek ervaar as ek sien Sy oog wat knipoog en Hy sê: “My liefste kind, jy is op die regte pad, hou net aan, dis hoe ons verhouding sterker groei.”
Kom ons wees nie skaam liefste kind van God om Hom toe te laat in die diepste kamers van ons hart nie. Ja dis ‘n proses, ‘n lieflike reis maar jong as ons commit om te groei en om treetjie vir treetjie te bly groei gaan ons by die mooiste pieke van liefdesverhouding met Abba aandoen en dit maak die pad tot daar oor en oor die moeite werd.
Hou aan! Deel jou hart met Abba! Al is dit net vandag om aan Hom te erken … Daddy daai persoon het my die hoenders ingemaak of ek kan nie, ek kan nie sonder U, liefde vir die wêreld wys nie. Hy is so, so ‘n goeie Pappa. Amen? Amen!!
Vir baie jare het ek glad nie Bybel gelees op my eie nie. Ek was een van daai na wie die predikant of pastoor verwys het as hy op ‘n Sondag gesê het … hulle Bybels gaar stof op gedurende die week.
Ter verdediging en so effe tong-in-die-kies … ek het hom darem nou en dan afgestof want ek was gereeld in die kerk en dan het my Bybel saamgegaan.
Hoekom het ek nooit nie eintlik Bybel gelees? Want dit was moeilik om te verstaan. En die lus het ontbreek. Dit was vervelig en het glad nie instantly opwinding in my hart ontketen nie. Ek wou nie aanhou met iets wat nie veel pret was nie. Daar was beter dinge om te doen so ja dit was dit.
Kom ons vlieg vinnig vorentoe – net soos fast forward net die Afrikaanse weergawe. 😉
Jare later, nadat ek Jesus (prys die Here) in verhouding ontdek het, sit ek so by Hom en Hy gesels bietjie met my. Ek hoor hoe Hy met my en Sy kinders praat oor Bybel-lees en ons wat dikwels so vinnig opgee daarmee of nie eens eintlik probeer nie. Hy sê toe: “Julle sal verbaas staan oor hoe Ek my Woord vir julle sal begin oopbreek as Ek sien dat julle daarmee aanhou. Dis hoe Ek julle harte toets. Dis hoe Ek weet dat julle rerig wil.”
Sjoeeeee dis hammer-op-die-kop-slaan-stories daai. Die Here ken ons te goed! Tjop-tjop het Hy die simptome perfek gediagnoseer en sommer Sy hemelse medisyne kom uitdeel. Ek was in verwondering!
Net nog ietsie voor ek gaan, Hy het ook bygevoeg: “Julle bekommer te veel oor wat julle nie verstaan in die Bybel nie. Werk met wat julle wel verstaan.” Want sien daar’s vlakke van openbaring en Hy weet presies watter areas in ons lewens eers aangeraak en deurwerk moet word voor Hy ons verder vat.
Hoop dit haal tonne swaarte van julle rûe af soos julle Berg Bybel uitklim! ♥
Ek wil graag die volgende met julle deel, diamantjies wat my hart bekruip het een Stiltetyd oggend.
Daar is ‘n skat in WARE SOEK, dit is WARE VIND.
Dit geskryf het ek aan die volgende begin dink…
Geen soek lewer geen resultate = Koud
Half-hartige soek lewer net halwe resultate = Lou
Heelhartige soek lewer volle resultate = ‘n Hart aan die brand
Daar is mos ‘n vers in die Bybel wat sê … was jy maar eerder warm of koud maar nou omdat jy lou is moet Ek jou uitspoeg (Openbaring 3 vers 16).
In my verstaan het iets ewe skielik begin kliek … ons sal nooit die volle amazingness wat moontlik is in verhouding met God kan vind as ons nie heelhartig daarna soek nie. Halfhartig en lou-wees werk mos nooit lekker vir lang-termyn nie. Dit behou mens se aandag net totdat iets wat meer aanloklik vertoon verby geflikflooi kom.
Julle ek hoop hierdie woorde, net soos vir my, spoor julle aan om daagliks die dieper dinge in God te wil ontdek.
Daar is eindelose wonderskone horisonne in ons God se hart. Hulle vra sal julle ons wandelpadjies saam met die Koning der konings kom bewandel?
Met my hele hart glo ek, ons het nog net die bodem aangeraak. Daar is grond in God wat nog omgedolwe moet word. Vars rou diamante wat hierdie huidige generasie uitnooi. Gaan ons dit ontgin of gaan ons sê ag nee wat, los dit maar vir die volgende geslag.
Ek wil beslis sê nee … Ons sal hierdie offer nie deur ons vingers laat glip nie. Ons sal aanmeld en aanteken vir die wonderskone God elke dag meer ontdek en die wonders van Sy hart met die wêreld deel!
Ai julle dis die warmste mooiste uitnodiging.
Kom ons sê ja. Nie uit vrees maar betowering. Dit is wat Jesus se Hy-het-dit-nie-verdien maar vir-ons-het-Hy-dit-gedoen Golgota-prys regkry. Nie?
Tonne liefde en baie mooi bly tot ons weer gesels! x
Soos ek terugkyk op my pad saam met die Here onthou ek hoeveel kere ek ongemaklik was om vir God te gaan kuier omdat ek skaam gekry en sleg gevoel het. Ek sou na my eie prestasies kyk, byvoorbeeld hoe ek die vorige dag opgetree het, hoeveel dinge ek reg of verkeerd gedoen het. Soos ‘n skaal julle weet myself mooi opweeg en dikwels is ek te lig bevind.
Dit het my vrymoedigheid gesteel en ek het regtig nie gedink dat God tevrede of beindruk sou wees met my nie. Sien ek het so half ‘n pakslae of teregwysing van Sy kant verwag. Maar wat ek deur die jare meer besef en geleer het is dat daar ‘n probleem was met die opname van my. Sien want wanneer ons so optree kom ons eintlik in onsself voor God en nie ten volle in of deur Jesus en Sy perfekte oorwinning behaal aan die Kruis van Golgota nie.
Onbewustelik en baie subtiel maar tog presies net so en dit liewe kind van God belemmer nogals dieper groei saam met God. Kan ek jou herinner … God weet presies hoe feilbaar en sondig ons vlees is. Dit verras Hom geensins soos vir ons nie. Al wat Hy vra is dat ons sal aanhou kom na Hom. Want sien dis Sy lieflike teenwoordigheid wat ons op die mooiste maniere bly transformeer om Jesus te reflekteer.
Weet vandag … God kyk nie na ons en ons prestasies wanneer ons vir Hom gaan kuier nie. Hy kyk na die opregtheid in ons harte en hoe ons deur die oë van die Golgota-prys vertoon. As jy sukkel hiermee, hier is ‘n stukkie goue raad. Bid die volgende voor jy Stiltetyd begin en glo dit met ‘n volkome hart:
“Hemelse Vader ek kom deur Jesus Christus se bloed en naam alleen. Baie dankie vir wie ek is in Hom. Goed genoeg vir U. So baie welkom in U teenwoordigheid. Nou en altyd. Amen.”
Ek’s onlangs besig om ‘n oog te hou by familie se huis terwyl hulle op ‘n wegbreek is en daar is pragtige blommekinders om te versorg.
Soos ek besig is om ‘n plant wat elke dag moet water kry, sodat hy sterk en mooi kan bly, benat … tref iets my. Veronderstel jou Stiltetyd is so ‘n plantjie. Daagliks het hy liefde en aandag nodig anders sal hy uitdroog, begin swaar trek of uiteindelik dood gaan.
Daar’s te veel van ons wat die sorg van ons plantjies nalaat, wat nie besef of weet die integrale deel wat dit vorm of behoort te vorm in die lewe van elke Christen wat in verhouding met God wil leef.
Elke dag se stil-sit-en-word-by-Hom. Dis waar Christenskap waarlik lekker raak.
Jy begin dalk benoude hartkloppings kry en dink ek ken dit nie. Jy begin wonder … hoe gaan ek dit oorleef om vir ‘n paar minute elke dag stoksielalleen te wees saam met God?
Prontuit wil ek vir jou sê … jy gaan piekfyn wees. Dit is moontlik. Regtig. Vat dit van iemand wat al daar was en nie gesterf het nie. Byna maar darem. Nee kyk, nou terg ek heerlik maar die beginsel waarheid bly dieselfde.
Geen kind van God kan sonder wortels en voeding hom of haarself eintlik ‘n Christen bly noem as hulle nie daagliks die nutriente wat nodig is om te oorleef en te floreer inneem nie.
En dit is wat daaglikse Stiltetyd in die lewe van elke Christen deponeer. Koninklike konneksie. Bomenslike vrede en vermoë. Rus en rigting van Bo.
Daar is soveel waarde wat sit-by-God inhou maar hiermee wil ek vandag veral een bo alle ander uitsonder.
As jy intimiteit met God wil ondervind. As jy honger is vir die dieper dinge van God. As jy wil uitkom by dit wat Abba vir ons voorberei het op aarde. Dan wil ek net sê … maak elke-dag-kuier-saam-met-God ‘n not-negotiable. Jou hele lewe deur.
Hierdie blog is ‘n rukkie terug ook op Finesse se Voelgoedwerf gepubliseer. Het julle al vir hierdie platform gaan kuier? Dis vol inspirasie vir die vrou. Hulle dek die volgende kategorieë: Geloof, Huwelik, Ouerskap, Self, Gesondheid. Gaan loer gerus in! Hier volg die skakel:https://voelgoed.co.za/blogs/
Baie liefde, geniet die res van julle week.
Letitia
Jesus sê in Johannes 10:10 Hy het gekom sodat ons die LEWE in oorvloed kan ondervind. Dis hoe dit deurvloei na ons boetie en sussie, wanneer onskonneksie met die hemel (Abba) hou!
Aan die begin van my verhouding-bou met God het ek regtig gewonder of Hy my sien, of Hy omgee dat ek elke dag tyd uitkerf om saam met Hom te spandeer. Wou Hy regtig hê ek, gewone ek, moet Hom, die Koning van die Heelal, beter leer ken?
Hy het so verskriklik vêr gevoel en ek so klein soos ‘n miertjie teen Sy grootheid. Was Hy werklik aangeraak deur my en my nader-tot-God-treë? Ja, nou ken ek Hom en Sy Woord veel beter maar daardie jare was ek nat agter die ore, ‘n ware groentjie in die geloof of ‘n pad saam met Jesus bewandel.
Dalk kan jy jouself vandag met my destydse penarie vereenselwig. Dalk maak dit vir jou ‘n bietjie sin. Dalk sit jy ook vandag op dieselfde denkbeeldige stoel waarop ek daai tyd gesit het. Jy wonder gaan tyd maak vir God waarlik vrugte afwerp?
‘n Mens wonder daaroor né want daar is geen flikkerende vuurwerke wat in ekstase begin rondspring of engele wat ‘n koninklike rooi tapyt in verwelkoming voor jou uitrol soos jy die deur vir Stiltetyd agter jou toemaak nie. Wel, blinkoog bekyk hulle die okkasie seker beslis … ons is net nie fisies van hulle bewus. 😉
Vandag wil ek jou kom bemoedig met dié woorde. Glo. Dit is regtig ‘n saak van geloof. Om tot God te nader. Hou aan en moenie stop. Kort voor lank sal jy smaak die ongelooflike ontmoetings van God se treë soos Hy ook tot jou begin nader. Nes die versie in die Bybel sê:
Nader tot God en Hy sal tot julle nader.
Jakobus 4:8
Sien, dis my storie. My presiese storie. Ek het Hom begin soek, deur Sy groot wonderlike genade alleen, en het ek gevind! Wow, sjoe, jô … ek kan vir jou beloof. Te veel stories daarbuite bevestig ook presies wat ek nou hier met julle deel. Sou my woord nie genoeg vir jou wees. 😉 (Gaan Youtube CBN Testimonies)
Ek weet boetie en sussie dis dikwels so, so moeilik om deur te druk, om te glo totdat jy ervaar maar ek wil hê jy moet vandag hoor, met die diepste plekkie van jou hart se ore … God sien. Hy sien, sien, sien jou soeke na Hom en Hy sal jou beloon.
Moenie opgee nie. As jy partymaal faal as gevolg van watter rede ookal. Weet en onthou … God vergewe en Hy wil jou so graag naby, teenaan Hom en Sy praghart hê. Ek wens jy kon sien wat ek vandag weet, span jou geloofsoë in toe … Jesus self wat jou aancheer … “Kom kind, kom, nog ‘n entjie nader, kom, kom kyk wat is vir jou voorberei. Jy kan, jy kan!” met die grootste afwagting op Sy gelaat.
As jy ‘n dag mis, as jy tien dae mis … om by Jesus uit te kom. Klim net weer op die ‘fiets van verhouding-bou’ en trap aan. Hou aan, hou aan, hou aan. Dit is die woorde wat suksesvolle vrugte afwerp in enige area van hierdie lewe. So sal dit ook vir jou wees met die treë wat jy opreg in Sy rigting bly gee.
Ja ek het al baie vir myself gesê … “Letitia as jy net vroeër met God verhouding begin bou het” … tog is ek so dankbaar dat ek dit kon ontdek en dat dit nie eers veel later in my lewe my beskore was nie. Ek het nie woorde om te verwoord die mooi wat Hy al in my hart kom plant het nie. Wel laat ek dit so stel, daar is te veel en hulle is almal basies sinonieme van hemelse vreugde.
Aaahh wel, hier is ons nou weer aan die einde van ‘n kuber briefie. Ek stuur vir julle liefde. Onthou, jy hoef dit nooit weer te bevraagteken …
GOD SIEN.
Ons gesels weer, waardeer julle! ♥
Wat sê jy?
Is die bogenoemde iets wat vir jou ‘n uitdaging is of was? Motiveer hierdie briefie jou om aan te hou treë nader aan God gee? Altyd lekker om julle harte te hoor! 🙂
Gaan vul jy elke dag op wat die wêreld daagliks tap? Hoor wat sê die Woord van ons Pappa-God …
Maar die wat op die Here wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle wandel en word nie mat nie.
jesaja 40 vers 31
As jy die lewe van oorvloed wil leef wat Jesus gesterf het om vir ons elkeen te gee is dit essentieel om te doen. Wag op Hom. Tyd saam met Hom.
Die wêreld en sy gejaag-na-wind laat leemtes wat net tyd saam met Jesus werklik na behore en so bekoorlik kan vol maak.
Vrede, stilte, rustigheid … als waarna jou hart eintlik smag, dit rus in Hom.
Gaan vind dit liewe kind van God. Maak en hou sit-by-Hom ‘n daaglikse doelwit.
In ‘n wêreld waar soveel dinge konstant vir ons aandag kompeteer kan dit nogals uitdagend wees om God heel eerste te hou. Ons fokus word so dikwels weggewink, of is dit net ek? 🙂
Vandag wil ek my en jou kom herinner. Ons gaan en kan net nooit verloor as ons God in daardie heelboonste plekkie hou.
Die Woord beloof in Mattheus 6 vers 33:
“Soek eers die Koninkryk van God en Sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.”
1953 vertaling
Als word in perspektief gebring en in balans gehou wanneer ons dit doen. Dit mag dalk nie altyd maklik wees nie maar dit is moontlik.
Kom ons wees bewus waaraan ons tyd bestee. Hoe weeg tyd saam met God op in vergelyking daarmee? Whatsapp, Facebook, Instagram, Youtube, speletjies, musiek, films, reekse, oefen, vermaak, dien by die kerk of jou gemeenskap, ‘n geliefde, familie, vriende, welsyn-werk, stokperdjies … oe toggie, die lys is eindeloos.
Hou God eerste vriende, eerste.
Dis nie dat die ander goed noodwendig sleg is nie maar wanneer hierdie goeters begin inbraak maak op die tyd en aandag wat veronderstel is om aan God te behoort dan raak dit ‘n probleem.
Als wat LEWE is vloei voort uit Jesus nommer 1 hou. Johannes 10 vers 10.
Sal God vertroue vind in die woorde wat Hy hierbo sê … Hou My eerste en die res sal bygevoeg word?
God is so trots en Hy sê voorwaar dankie aan al Sy kinders wat altyd seker maak dat die skaal van tyd en belangrik in Sy guns bly lê. As jou skaal oorhel na dinge meer belangrik as God wil ek net vra wees bereid om te besin, dinge in heroorweging te neem en te sê: “Nee wag, hier kort ‘n bietjie verandering.”
Dit pla God as ander dinge vir ons belangriker is as Hy. Dit moet ons ook hinder. ‘n Hart wat altyd opreg vra: “Help my U die belangrikste hou.” Dit eer Hom. Kom ons hê so ‘n hart.
Dit als omdat ons so graag wil uitkom by die land van melk en heuning wat Abba vir ons voorberei het in verhouding met Hom.
Ek sien vanoggend ‘n prentjie wat sê dis nie dat ons nie tyd het nie, dis dat dit nie belangrik genoeg vir ons is nie. Ek dink daar’s nogal waarheid daaraan. Hart-in-lyn-bring-woorde. Dis ‘n goeie ding, al voel dit nie so. Glo my! 😉
So nou dink ek, as ek moet praktiese wenke gee van hoe ek Abba eer as die belangrikste in my lewe … wat sal ek sê? Wel vir my lyk dit soos luister wanneer Hy vra. Dit lyk soos Sy raad volg eerder as myne. Dit lyk soos Sy wil vra met my keuses. Dit lyk soos my eie ek afsterf en groei in Jesus. Dit lyk soos elke dag tyd met Hom spandeer. Dit lyk soos lofprysing en aanbidding. Dit lyk soos Hom liewer kry. Dit lyk soos Bybel-lees sodat ek Hom beter kan leer ken. Dit lyk soos Sy koninkryk bou en nie my eie nie. Dit lyk soos vriendelik-wees en respek wys teenoor almal. Dit lyk soos Hom toelaat om my lief te hê. Dit lyk soos opstaan wanneer ek val en aanhou weer-en-weer. Watse praktiese wenke kan jy met ons deel? Hoe maak en hou jy Jesus die hoogste prioriteit in jou lewe? Lewer gerus kommentaar. Sal lief om van jou te hoor! ♥
God se volheid is Efesiërs 3:20, gaan lees en raak opgewonde! Dis Jesus heelbo! x