Liewe vriende,
Voordat jy verder wonder laat ek verduidelik.
Ek’s onlangs besig om ‘n oog te hou by familie se huis terwyl hulle op ‘n wegbreek is en daar is pragtige blommekinders om te versorg.
Soos ek besig is om ‘n plant wat elke dag moet water kry, sodat hy sterk en mooi kan bly, benat … tref iets my. Veronderstel jou Stiltetyd is so ‘n plantjie. Daagliks het hy liefde en aandag nodig anders sal hy uitdroog, begin swaar trek of uiteindelik dood gaan.
Daar’s te veel van ons wat die sorg van ons plantjies nalaat, wat nie besef of weet die integrale deel wat dit vorm of behoort te vorm in die lewe van elke Christen wat in verhouding met God wil leef.
Elke dag se stil-sit-en-word-by-Hom. Dis waar Christenskap waarlik lekker raak.
Jy begin dalk benoude hartkloppings kry en dink ek ken dit nie. Jy begin wonder … hoe gaan ek dit oorleef om vir ‘n paar minute elke dag stoksielalleen te wees saam met God?
Prontuit wil ek vir jou sê … jy gaan piekfyn wees. Dit is moontlik. Regtig. Vat dit van iemand wat al daar was en nie gesterf het nie. Byna maar darem. Nee kyk, nou terg ek heerlik maar die beginsel waarheid bly dieselfde.
Geen kind van God kan sonder wortels en voeding hom of haarself eintlik ‘n Christen bly noem as hulle nie daagliks die nutriente wat nodig is om te oorleef en te floreer inneem nie.
En dit is wat daaglikse Stiltetyd in die lewe van elke Christen deponeer. Koninklike konneksie. Bomenslike vrede en vermoë. Rus en rigting van Bo.
Daar is soveel waarde wat sit-by-God inhou maar hiermee wil ek vandag veral een bo alle ander uitsonder.
As jy intimiteit met God wil ondervind. As jy honger is vir die dieper dinge van God. As jy wil uitkom by dit wat Abba vir ons voorberei het op aarde. Dan wil ek net sê … maak elke-dag-kuier-saam-met-God ‘n not-negotiable. Jou hele lewe deur.
Hierdie blog is ‘n rukkie terug ook op Finesse se Voelgoedwerf gepubliseer. Het julle al vir hierdie platform gaan kuier? Dis vol inspirasie vir die vrou. Hulle dek die volgende kategorieë: Geloof, Huwelik, Ouerskap, Self, Gesondheid. Gaan loer gerus in! Hier volg die skakel: https://voelgoed.co.za/blogs/
Baie liefde, geniet die res van julle week.
Letitia