Blye versekering

Aan die begin van my verhouding-bou met God het ek regtig gewonder of Hy my sien, of Hy omgee dat ek elke dag tyd uitkerf om saam met Hom te spandeer. Wou Hy regtig hê ek, gewone ek, moet Hom, die Koning van die Heelal, beter leer ken?

Hy het so verskriklik vêr gevoel en ek so klein soos ‘n miertjie teen Sy grootheid. Was Hy werklik aangeraak deur my en my nader-tot-God-treë? Ja, nou ken ek Hom en Sy Woord veel beter maar daardie jare was ek nat agter die ore, ‘n ware groentjie in die geloof of ‘n pad saam met Jesus bewandel.

Dalk kan jy jouself vandag met my destydse penarie vereenselwig. Dalk maak dit vir jou ‘n bietjie sin. Dalk sit jy ook vandag op dieselfde denkbeeldige stoel waarop ek daai tyd gesit het. Jy wonder gaan tyd maak vir God waarlik vrugte afwerp?

‘n Mens wonder daaroor né want daar is geen flikkerende vuurwerke wat in ekstase begin rondspring of engele wat ‘n koninklike rooi tapyt in verwelkoming voor jou uitrol soos jy die deur vir Stiltetyd agter jou toemaak nie. Wel, blinkoog bekyk hulle die okkasie seker beslis … ons is net nie fisies van hulle bewus. 😉

Vandag wil ek jou kom bemoedig met dié woorde. Glo. Dit is regtig ‘n saak van geloof. Om tot God te nader. Hou aan en moenie stop. Kort voor lank sal jy smaak die ongelooflike ontmoetings van God se treë soos Hy ook tot jou begin nader. Nes die versie in die Bybel sê:

Nader tot God en Hy sal tot julle nader.

Jakobus 4:8

Sien, dis my storie. My presiese storie. Ek het Hom begin soek, deur Sy groot wonderlike genade alleen, en het ek gevind! Wow, sjoe, jô … ek kan vir jou beloof. Te veel stories daarbuite bevestig ook presies wat ek nou hier met julle deel. Sou my woord nie genoeg vir jou wees. 😉 (Gaan Youtube CBN Testimonies)

Ek weet boetie en sussie dis dikwels so, so moeilik om deur te druk, om te glo totdat jy ervaar maar ek wil hê jy moet vandag hoor, met die diepste plekkie van jou hart se ore … God sien. Hy sien, sien, sien jou soeke na Hom en Hy sal jou beloon.

Moenie opgee nie. As jy partymaal faal as gevolg van watter rede ookal. Weet en onthou … God vergewe en Hy wil jou so graag naby, teenaan Hom en Sy praghart hê. Ek wens jy kon sien wat ek vandag weet, span jou geloofsoë in toe … Jesus self wat jou aancheer … “Kom kind, kom, nog ‘n entjie nader, kom, kom kyk wat is vir jou voorberei. Jy kan, jy kan!” met die grootste afwagting op Sy gelaat.

As jy ‘n dag mis, as jy tien dae mis … om by Jesus uit te kom. Klim net weer op die ‘fiets van verhouding-bou’ en trap aan. Hou aan, hou aan, hou aan. Dit is die woorde wat suksesvolle vrugte afwerp in enige area van hierdie lewe. So sal dit ook vir jou wees met die treë wat jy opreg in Sy rigting bly gee.

Ja ek het al baie vir myself gesê … “Letitia as jy net vroeër met God verhouding begin bou het” … tog is ek so dankbaar dat ek dit kon ontdek en dat dit nie eers veel later in my lewe my beskore was nie. Ek het nie woorde om te verwoord die mooi wat Hy al in my hart kom plant het nie. Wel laat ek dit so stel, daar is te veel en hulle is almal basies sinonieme van hemelse vreugde.

Aaahh wel, hier is ons nou weer aan die einde van ‘n kuber briefie. Ek stuur vir julle liefde. Onthou, jy hoef dit nooit weer te bevraagteken …

GOD SIEN.

Ons gesels weer, waardeer julle! ♥

Wat sê jy?

Is die bogenoemde iets wat vir jou ‘n uitdaging is of was? Motiveer hierdie briefie jou om aan te hou treë nader aan God gee? Altyd lekker om julle harte te hoor! 🙂

ANKER VAN HOOP | INTIMITEIT MET GOD

Hallo daar! 👋

Wil jy graag 'n gids met 10 sleutels wat jou gaan help om te blom in verhouding met God ontvang? Sluit dan vandag aan by ons E-pos Lys. Ons beloof e-posse wat jou inspireer en toerus!

Ons stuur nie rommelpos nie! Jy kan
enige tyd jou subskripsie kanselleer.

VOLG ONS VIR MEER

INSPIRERENDE BLOGS EN GROEI SAAM MET GOD

Ons stuur nie rommelpos nie, jy kan jou subskripsie enige tyd kanselleer.

Leave a comment