Vertrou My sê die Here
Vertrou My met jou hele hart
Vertrou jou lewe toe aan My
Vertrou dat Ek altyd beter weet
Selfs al verstaan jy nie alles wat gebeur
Selfs al bevind jy jou in donker dieptes
Liewe kind sal jy asseblief altyd weet
My hart vir jou bly mooi
As jy jou hart vir My gegee het
En die pad raak donker
Nie omdat jy verkeerd gekies het nie
Maar omdat jy die pad loop saam met My
Weet Ek is altyd daar
Om jou nooit ooit te verlaat
Selfs al raak jou asemteue moeg
Selfs al voel jou hart partykeer baie leeg
Liewe kind
Hou asseblief aan
Hou asseblief vas
Al is dit al waarvoor jy kans sien
Liewe kind
Ek weet en Ek besef
Die pad raak partykeer
Ongelooflik moeilik
Pad-byster-raak voel asof dit gereeld gebeur
Liewe kind Ek weet
Partykeer voel die kleinste hobbeltjies in die pad
Soos die grootste berge ooit!
Ek weet dit raak moeilik
Ek weet liewe kind
Want Ek stap hierdie pad saam met jou
Besef en weet jy dit?
Die kere wat jou hart wil breek
Omdat jy dink Ek het van jou vergeet
Die kere wat jy dink Ek hoor nie
Die kere wat jy dink Ek gee nie meer om
Liewe kind net omdat jy nie altyd kan hoor nie
Beteken nie Ek is nie daar nie
Ek is ALTYD DAAR
Ek gee meer om as wat jy ooit kan besef
As jy My hart kon sien
Sou jy sien die trane wat saam met joune vloei
Jy sou sien jy is nooit alleen in jou droefheid nie
Jy sou sien hoe Ek die hare uit jou gesig wegvee
Liewe kind jy is nie alleen
Wanneer paaie van swaar, lyding en droefheid jou pad kruis nie
Onthou jy dan nie … Ek verstaan
My pad was die Via Dolorosa
Ek verstaan jou lyding
Beter as wat enige mens ooit kan
Diepste lyding was My deel
Sodat Ek ook kon weet waardeur jy gaan
Ek weet hoe voel dit om te wees
Van alles-en-almal-verlate
Heeltemal
Alleen
Liewe kind kan jy dit verstaan
Ek verstaan
Ek weet waardeur jy gaan
Ek is by jou
Die kere wat jou man
Jou wil afbreek met sy woorde
Die kere wat jy voel
Jou kinders breek jou hart
Liewe kind Ek verstaan
Ek verstaan die seer in jou hart
Die moedeloosheid wat dikwels daar kom woon
Ek sal jou die krag gee daarvoor
In My liefde
Sal hulle s’n nie meer so nodig wees nie
In My liefde sal jy ervaar
Hoe jy kan aanhou uitdeel alles wat van My is
Sagmoedigheid
Barmhartigheid van Gees
Onvoorwaardelike liefde
Veral wanneer hulle dit die minste verdien
Liewe kind Ek weet dis nie altyd maklik nie
Maar deur jou kan Ek hulle bereik
As hulle My in jou sien
Sou hulle dalk ook die moed hê om te kom
Dieselfde kans wat Ek aan jou gegee het
Wil Ek ook aan hulle gee
Die kans om ook hulle harte
Oop te maak vir My
Liewe kind Ek weet dis partykeer moeilik
Berus hierby
Die liefde wat Ek in jou hart wil uitstort
Niks sal daarteen kan stry
In jou sal hul sien
Ek is lief vir hul
In jou sal hulle sien
Daar is Iemand wat baie omgee
Moenie wil weghardloop
Elke keer as dit moeilik raak nie sê die Heer
Nee! kyk na My
Vertrou My
Ek sal vir jou die genade gee
Om dit wat jou padlangs kom te hanteer
Onthou Ek sal jou nooit gee
Wat Ek weet jy nie saam met My kan oorwin
Saam sal ons hierdie pad loop
Saam sal ons oorwin
Woorde van seer
Sal Ek draai in woorde wat LEEF!
Vertrou My asseblief liewe kind
Op die heuwels en in die dale van die lewe weet Ek is daar
Hand-in-hand sal Ek saam met jou stap
Jou nooit-ooit verlaat
Ek is by jou
Ek weet wat Ek van jou vra
Saam met My kan jy hierdeur
Asseblief vertrou My hart
My hart is altyd mooi
Dis waar vergifnis en liefde vir jou woon
Kom vat My hand liewe kind
Loop hierdie pad end-uit saam met My.