Beginselvas sê jy

Om vrede te hê
Wat alle verstand te bowe gaan
Om dit te ken
Oe dit is so mooi

Ek weet sê ons Pappa-God
Vrede is My Seun
En Ek is so bly en dankbaar
Dat julle Hom in julle lewens wil hê

Kinders dit bly vir My so mooi
Ongelooflik mooi
Om kinders op hierdie aarde te hê
Wat wil hê dat Ek in hulle moet woon

Oe kinders
Die wat blind is
Ek wens julle kon verstaan
Ek is die mooiste mooi

Geen mooier een
Sal daar ooit bo My wees
Nee liefste kinders
Dit kan nie ooit so wees

Ek is die weerspieëling
Sê Pappa-God
Van als wat mooi is in die wêreld
Sien dit, sien My

Ja sê Pappa-God
Is dit nou die groot canyons
Is dit nou die sneeu wat die pieke bedek
Is dit nou die sonsondergange wat julle asems steel

Oe dis Ek
Dis Ek sê ons Pappa-God
Ek het die mooi in die wêreld gesit
Sodat julle kon sien en besef ware mooi bestaan!

Ja dis Ek sê ons Pappa-God
Dis Ek
Daai sneeu-bedekte berge
Tot die skoenlappers wat op julle hande kom sit

Die skepping vertel ‘n storie
Sê ons liefste Pappa-God
Dit vertel ‘n storie
Van ‘n Bruidegom se liefde wat Sy bruid kom red

Oe oor en oor vertel dit die storie
God het julle lief
Liewe wêreld
So baie lief selfs Sy Seun het Hy gegee

Kinders wanneer julle hierdie storie mis
Wanneer julle vir die skepping kyk
En dit so vreeslik geniet
Dan mis julle so verskriklik baie

Ek het aardse liefde gegee
Sê ons Pappa-God
Sodat julle kon verstaan
Hoe Ek baie dikwels in My binneste voel wanneer Ek vir julle kyk

Aardse liefde is gegee
Sê ons Pappa-God
Om te weerspieël
Die liefde wat Ek in My hart teenoor jou het

Kind, seun, dogter
Hoekom maak julle aardse liefde dikwels so goedkoop
Hoekom kyk julle daarop neer
Kyk hoe julle dit kan vertrap?

Liefste kinders
Die wêreld se liefde
Lyk veel anders as Myne
Ek wou dit net graag vir julle sê

Die wêreld se liefde
Oe kinders
Dit verwar julle harte so
Julle weet nie meer wie Ek rerig is

Daar is so min huwelike op aarde
Sê ons Pappa-God
Wat My beeld van hoe ‘n huwelik moet wees uitstraal
Kinders hoekom is dit so?

Hoekom buig julle altyd die reëls
Sê ons Pappa-God
Om julleself te pas
Kinders Ek vra julle wat so lekker rondslaap

Kinders hoekom doen julle dit
Hoekom vertrou julle nie julle Pappa
Hoekom vertrou julle nie dat Ek
Na al die jare nogsteeds beter weet

Kinders dit maak My seer
Dit maak My hart rerig seer
Kinders wat bly afdwaal
Kinders wat bly slegpraat van hulle Pappa wat hulle wil red

Hoekom, hoekom vra ons Pappa
Hardloop julle altyd
In die teenoorgestelde rigting
Hoekom gee julle altyd so gou op op My

Kinders Ek verstaan
Die wêreld leer julle anders
Maar hoekom
Hoekom vat julle haar raad bo-oor Myne?

Kinders, hoekom
Hoekom verstaan julle nie
Dat Ek julle liewer het
As wat hierdie wêreld jou ooit sou hê

Kinders sy sou nooit
Luister wat Ek vir jou sê, asseblief
Nooit ooit haar seun vir jou opgee
Selfs al sou sy een hê

Kinders die hoer van hierdie wêreld
Babilon, Satan
Kinders sy leer nie wat reg is nie
Net als verkeerd

Liefste kinders haar hart is altyd
Om weg te lok, weg te lei van My
Hoekom sien julle dit nie
Hoekom glo julle nie

Kinders haar hart is om seer te maak
Om af te breek
En dit is wat sy so gereeld regkry
Met die leuens wat julle in julle lewens toelaat

Kinders julle glo verkeerd
Julle glo verkeerd as julle dink
Dat My waardes en beginsels verander het
Net omdat soveel jare tussen toe en nou lê

Kinders Ek is nuut en vars
Ek weet van pioneerskap
Tog sal Ek nooit verander
Wie Ek binne is

Gister, vandag en môre
Bly Ek beginsel-vas
Bly Ek skoon, rein en mooi
Hoekom wil jy dit nie in jou lewe hê?

Kind verstaan jy nie
Om beginsels te hê
Waarvolgens jy leef
Dit is eintlik so mooi

Eintlik sê dit net een ding
Jy besef jou waarde
Jy besef jou verantwoordelikheid
En jy sal daarvolgens leef

Kinders dis mooi
Dis mooi!
Hoekom soveel van My kinders elke dag die sonde en dit wat vuil is liewer kry
Weet Ek nie

Ek verstaan nie
Ek verstaan nie hoekom soveel van My kinders
Nee dankie sê vir hulle wonderlike identiteit in Jesus Christus
Ek verstaan nie

Soveel kere wat Ek sien
Sê Pappa-God
Wat Ek ervaar hoe Satan
My kinders se waarde bly steel

Hy stroop julle van alles
Wat goed en mooi is
Hy leer julle om julle waarde
Te bepaal deur wat die wêreld sê

Kinders
Julle verstaan nie
Julle verstaan nie dat julle oorwinnaars is
Wat oor hom en sy werke moet triomfeer

Kinders Ek weet
Ek weet dis sleg en nie lekker om te hoor
Maar kinders hoe gaan ons vorentoe
Hoe gaan ons hierdie verhouding maak werk

Julle dink Ek steel
Jull dink Ek wil net lelik wees
Kinders verstaan julle nie
Weet julle wie Ek is in hart?

As julle My hart
Vir ‘n oomblik kon sien
‘n Sekond
Sou julle weet dat geen selfsug daarin kan oorleef

Hoekom dan sê ons Pappa
Hoekom dan
Glo julle so verkeerd
Hoekom wil julle daarmee aanhou

Ek raak so moeg
Sê ons Pappa
Rerig-rerig moeg wanneer Ek dink aan mense
Wat sê hulle wil eers sien

Kinders julle maak My moeg
Julle wat bly sê
Glo sal ek
Maar ek wil eers sien

Kinders dis wat die wêreld leer
Maar sê My
Wat het dit julle in die sak gebring
Rerig?

Julle glo so verkeerd
So verkeerd om
Kinders kan Ek julle vra
Glo en dan sal julle so duidelik sien

Geloof is die duidelikste bril
Wat enige iemand
Ooit sal kan opsit
Geloof wat sê glo God

Kinders julle kan nooit ooit verkeerd gaan
Nie as julle dit sou doen
Ek vra weer
Glo en jy sal sien

Amen.

ANKER VAN HOOP | INTIMITEIT MET GOD

Hallo daar! 👋

Wil jy graag 'n gids met 10 sleutels wat jou gaan help om te blom in verhouding met God ontvang? Sluit dan vandag aan by ons E-pos Lys. Ons beloof e-posse wat jou inspireer en toerus!

Ons stuur nie rommelpos nie! Jy kan
enige tyd jou subskripsie kanselleer.

VOLG ONS VIR MEER

INSPIRERENDE BLOGS EN GROEI SAAM MET GOD

Ons stuur nie rommelpos nie, jy kan jou subskripsie enige tyd kanselleer.

Leave a comment