Geleende tyd

Die wie jy liefhet
Hulle kan jy maar mis
Dis reg so liewe kind
Ek weet van die geskiedenis wat julle deel

Ek weet van die hande wat julle gehou het, die soentjies en drukkies wat was
Ek weet dit is nie maklik om te laat gaan
Dis hoekom Ek die ewigheid gemaak het
Sodat ons en geliefdes weer kon saam wees

Sien liewe kind Ek verstaan verhouding
Ek verstaan liefhê en wees
My kinders – voor tyd –
Het Ek al uitverkies

My geliefde
Ek ken haar naam
Dis My Naam wat oor haar geskryf staan
Vir altyd sal ons saam wees

Liewe kind Ek verstaan liefde
Ek verstaan aardse verhoudings
Ek verstaan die omgee daarvan
Liewe kind Ek het dit gemaak

Ek verstaan
So kom, kom na My
Maak oop jou hart
Gee jou hartseer vir My

Liewe kind Ek en jy
Saam sal ons hierdeur
Die trane wat oor jou wange rol sal Ek afvee
Die verlange in jou hart met My liefde beter maak

Liewe kinders Ek is nie vêr wanneer mense rou nie
Ek is baie naby
Tog moet julle weet
Lewe en dood dit is die verloop van die lewe

Niemand gaan vir altyd hier wees nie liewe kind
Niemand
Hou op om te sê ek verstaan nie
Hou op om te sê Ek wil julle daardeur seer-maak

Liewe kind Ek wil nie
Dit is nie die waarheid
Vandat julle iemand het
Moet julle weet jul is vir mekaar geleen

Liewe kind nooit het Ek belowe
Dat julle elke liewe dag saam gaan wees
Dat daar nooit moeilike tye gaan kom
Of dat die dood julle nie weer gaan skei

Sien liewe kind Ek is liefde
En Ek gee om
Maar een ding moet julle weet
Hierdie aardse lewe is nie vir altyd

Dit gaan verby sê die Here
Dit gaan verby
Daarom wees dankbaar elke liewe dag
Wat julle jul geliefdes naby het

‘n Mens weet nie wanneer dit kan verander
Wees lief vir mekaar
Waardeer mekaar
Koester mekaar

Liewe kind moenie bakleiery aanhits
Dink voordat jy praat
Is dit nodig? Is dit wys? Of is dit eintlik dom?
Liewe kind asseblief waardeer die tyd wat julle saamhet

Sodat julle wanneer julle ‘n geliefde verloor
Nie nodig het om te dink ek wens daar was meer tyd gewees
Liewe kinders die tyd wat julle het is geleende tyd
Daar is geen waarborg dat dit vir altyd sal wees

Waardeer mekaar vandag!
Sê vandag ek is lief vir jou
Sodat jy nie op ‘n dag sal sê
Het ek maar

Nee liewe kind
Maak die beste van vandag
Wees die beste jy wie jy kan wees
Deel liefde uit net waar jy gaan

Moenie vir jare
Vies-bly vir mekaar
Nee liewe kind
Vergewe en vergeet dit is wat Ek in My Woord vir jou vra

Wat help dit julle bly vir altyd kwaad
Daar is geen verkeerd wat Ek nie sal vergeef
Hoeveel te meer tel dit nie vir jou nie
Liewe kind?

So bel daardie long-lost boetie
Spoor-op jou verlore sussie
Bel en sê
Weet jy die lewe is te kort hiervoor

Kry ‘n middelweg
Maak hom werk vra die Here
Kwaad-bly help niks nie
Dit steel net die vreugde en liefde in jou hart

Ek kan hoor
Sê die Here
Ek het daardie persoon nie nodig om gelukkig te wees
I’m doing just fine thank you very much

Liewe kind dis nie waarvan Ek praat
Jy ontneem die vreugde en liefde uit jou eie hart
Besef jy hoeveel plek
Daardie bitternis en onvergifnis in jou hart opneem?

Liewe kind vergewe asseblief!
En moenie toelaat dat dit net woorde is
Mense kan jy flous met mooi woorde
Maar sê My wat doen jou dade?

Sê hulle ook vergifnis is uitgedeel?
Sê ook jou hart ek is waarlik vry?
Sien liewe kind Ek wil nie hê die duiwel moet jou gebonde hou
En dit is presies wat bly gebeur

Dit gaan nie oor jou nie sê die Heer
Ook nie oor die ander een
Dit gaan oor jou hart wat in ‘n greep is
En Ek wat jou wil vrymaak daarvan

Sien liewe kind gebonde gaan jy bly
Maak nie saak hoe vry jy dink jy is daarvan
Onvergifnis en kwaad-bly steel die mooi in jou hart
Dit hou jou voete op die pad van kwaad, die pad waarop Ek nie wil hê jy moet wees

Spreek vry! sê die Heer
Spreek vry en laat gaan
Almal wat jou seergemaak het
Gee hulle in My hande oor!

Liewe kind dalk besef jy nie Ek weet
Ek weet van die verskriklike goed jou aangedoen
Hou op om in vrees te lewe
Ek wil hê jy moet vry-wees daarvan

Liewe kind Ek verstaan die pyn in jou hart
Ek verstaan wat daarbinne aangaan
Ek weet
Niemand kan meer verstaan as Ek

Laat gaan van dit wat jou terughou
Sê Vader
Kom na My
Laat Ek jou die woorde van wysheid leer

Laat gaan van dit wat was
Laat Ek jou ‘n nuwe begin gee
Om met vergifnis, liefde en lig
Met lang-verlorenes, ons-was-kwaad-vir-mekaar-familie om te gaan

Liewe kinders Ek sien jou hart
Daar is net nie ‘n manier hoe dit ooit moontlik is
Liewe kind dit is
Sal jy My begin vra om hulle harte voor te berei?

Liewe kind want jy moet weet
Ek sal!
Ek is altyd bereid om enige rusie uit te sorteer
En My vrede te gee

Ek wil nie hê julle moet vir mekaar kwaad bly nie
Sê die Heer
Dit hoort nie so nie
Dit hoef nie so te wees

Hou op om mense af te skryf sê die Heer
Elke keer as julle vassit of koppe stamp
Is dit julle enigste geweer
Liewe kind dalk het jy nie geweet

Dit vat die baie beter een
Om dinge uit te sorteer?
Julle vat die maklike pad
Ek wil nou nie sê the coward’s way

Liewe kind nee!
Ek wil hê jy moet dit gaan uitsorteer
Ek wil hê dit moet by jou begin
Jy die een wat sê dat Ek in jou leef

As Ek waarlik die Een is wat in jou hart woon
Sê die Heer
Sal jy dit doen, jy sal doen wat Ek vra
Daar sal geen aarseling of huiwering wees

Liewe Vader weet U wat het hulle aan My gedoen?
Weet U wat U vra?
Liewe kind Ek het geweet toe My Woord geskrywe is
Lank voordat jy hierdie wêreld ingekom het

Daarom en nogsteeds vra Ek vergewe en vergeet
Ek vra julle nie iets wat Ek nie self
Elke liewe dag aan julle uitdeel nie
Ek vra vir jou

Ek wil hê jy moet vry wees
Van die bande wat jou vashou
Die onvergifnis maak dat jy My nie
Met oop hande en hart kan loof en prys nie

Sê My liewe kind
Wanneer laas het jy probeer?
Wanneer laas het jy jou hande opgehef
My geloof en geprys met alles wat in jou is?

Jy kan nie né liewe kind?
Dit is moeilik né?
Sien jy liewe kind
Sien jy daardie bande waarvan Ek praat?

Hulle hou julle in ‘n greep
‘n Greep van doodsheid
Met die uitsluitlike doel
Om alle asem uit julle longe te pers

Sien liewe kind, sien jy?
Dit gaan lankal nie meer oor jou en die ander een of wie reg en verkeerd was nie
Dit gaan oor lewe en dood
Met ‘n ewigheid op die spel.

ANKER VAN HOOP | INTIMITEIT MET GOD

Hallo daar! 👋

Wil jy graag 'n gids met 10 sleutels wat jou gaan help om te blom in verhouding met God ontvang? Sluit dan vandag aan by ons E-pos Lys. Ons beloof e-posse wat jou inspireer en toerus!

Ons stuur nie rommelpos nie! Jy kan
enige tyd jou subskripsie kanselleer.

VOLG ONS VIR MEER

INSPIRERENDE BLOGS EN GROEI SAAM MET GOD

Ons stuur nie rommelpos nie, jy kan jou subskripsie enige tyd kanselleer.

Leave a comment