Partykeer as die lewensstorms woed en ons kry net nie gewen in hierdie aardse stryd wat mens DIE LEWE noem nie is dit menslik, so menslik om te begin twyfel aan God se daar-wees. Want. ‘n Mens kry Hom en Sy nabyheid net nie gevoel nie. En ons wil so graag daai sekerheid hê in die Hy-voel-so-vêr en asof-Hy-glad-nie-omgee-nie.
Ek het al so gevoel. Alleen en heeltemal verlate. Ja God-verlate. Maar dan … saggies … hoor ek hoe Sy Gees kom herinner … Het jy jou Woord gelees? Sal jy onthou … dit sê … Al gaan jy deur dale van doodskaduwees, Ek sal by jou wees. Al wil die waters jou boot binnestroom en oorstroom, al wedywer die oondvure om warmer as mekaar te wees … hulle sal nie die oorhand kry.
Die Woord sê ook … God Sjamma … God Altyd daar. Dis een van Sy kosbare name. Weet dit vandag liewe kind van die Almagtige. Jy mag hoe alleen VOEL maar dis net nie waar nie want GOD se WOORD kan nie jok nie en dit beloof … Ek sal jou NOOIT begewe of verlaat nie (Hebreërs 13:5).
Ek dink dis waar geloof inkom. Ons moet glo. Dit wat ons nie kan sien of noodwendig ervaar nie (Hebreërs 11:1). Dis hoe ons geloof sterker spiere bou. Weet dit vandag liewe boetie en sussie, jou glo, dit is die moeite werd.
🍁 Geseënd is jy!
Die woorde van die Here is rein woorde, silwer wat gelouter is in ‘n smeltkroes in die aarde, gesuiwer sewe maal.
– Psalms 12 vers 7. #onskangodmaarglo #godismeerasonsemosies