Hoekom was daar ‘n boom?

Kom na My gebroke wêreld
Kom na My stukkende wêreld
Dit is My hartsbegeerte
Om julle weer heel te maak

Alles wat sonde gebreek het
Alles wat sonde gesteel het
Dit wil Ek kom herstel
Dit wil Ek kom teruggee

Ek is in die Proses sê Abba-God
Om alles en almal
Om hierdie wêreld
Terug te bring na My

Dit is waar My hart lê sê Pappa-God
Dit is waar My hart lê
By die gebrokenes
By die stukkendes van hart

My liefste kinders
Liefste wêreld
Ek wil hê dat julle My intensies
Sal begin reg raaksien

Want soveel kere sê Pappa-God
Dat julle sê dat Ek
Agter die seer
In hierdie lewe lê

Dis nie My hart nie sê Pappa-God
Om jou seer te maak
Hoekom sou Ek dan ‘n plek
Soos die Tuin van Eden skep

‘n Plek waar alles
Perfek was
‘n Plek waar alles
Mooi en sonder sonde was

Ja My liefste kind
Die Tuin van Eden
Moes ‘n boom van kennis
En goed en kwaad hê

Weet julle hoekom
Sê Abba-God
Sodat elke mens
‘n Vrye wil kon hê

Ek moes mense met ‘n vrye keuse maak
Sê Abba-God
Daar moes ook ‘n opsie wees
Om teen My te draai

Dit is omdat Ek geweet het
Wat is reg en verkeerd
Dat ook julle
‘n Keuse moes hê

My kinders Ek moes seker maak
Dat almal kon sê
Ek is ‘n regverdige God
Ek moes aan elke mens ‘n vrye wil en keuse gee

Ja Ek het geweet dat julle ‘n keuse sou hê
Om teen My te draai
Maar Ek moes dit doen
Want Ek weet wat is reg en verkeerd

Ja sê Abba-God
Ek het gehoop dat julle
My hart sou vertrou
Dat julle vir My hart sou ja sê

Ek moes die kans waag
Sê Abba-God
Ek kon nie net robotte maak
Wat op alles ja en Amen sê

Ek moes mense maak
In die Beeld van hulle Skepper
Met die kennis van goed en kwaad
Met ‘n eie wil

My liefste kinders
Ek het so gehoop
Dat julle vir My sou ja sê
Dat julle nie teen My sou draai

My liefste kind
Sien julle dat dit die begin is
Van alle smarte
Om vir My nee te sê

My liefste kinders
My hart was goud
Ek het julle nie mislei
Ek het julle gevra om My te vertrou

Hoekom het julle nie sê Abba-God
Hoekom het julle almal
Van die boom van kennis
Van goed en kwaad geeët

Julle almal het gekies
Om teen My te draai
Nie een van julle het gekies
Om op My Woord staande te bly

Ek het vir julle gevra
Om nie daarvan te eet nie
Ek het nie vir julle gelieg nie
Ek het julle gevra om My te vertrou

Hoekom het julle nie
Liefste kinders
Hoekom het julle nie
My Woord vertrou?

Julle gaan so vinnig daaroor
Sê Pappa-God
So vinnig
Besef julle rerig wat het daar gebeur

Julle het sonde bo My gekies
Liefste kinders
Julle het gekies om Satan
Bo My te vertrou

En liefste kinders
Dit maak seer
Want tot vandag vertrou soveel van julle
Nogsteeds meer vir hom

Julle het julle rug
Op My gedraai
Julle het gekies
Om My nie te vertrou

As julle nie van die vrug geeët het nie
As julle My bly vertrou het
Was ons nog daar
In die Tuin van Eden

Dit is hoe Ek gehoop het
Dit sal altyd wees
Ek in die Tuin van Eden
Julle saam met My

Tog het dit nie so uitgewerk
En Ek moes ‘n plan maak
‘n Plan om jou terug te bring na My
‘n Plan om jou die mooi in My hart te wys

Dit is waarmee Ek besig is sê Abba-God
Om vir julle te wys
En te leer
Ek is ewig te vertrou

Ek is vir jou sê Abba-God
Nie teen jou
Al wil jou situasie
Vir jou iets anders sê

My liefste kinders
Julle kan My hart vertrou
Deur die storms van die lewe
My hand net vaster hou

My liefste, liefste kind
Net soos My hart toe alreeds
Vir jou was
So is dit nogsteeds

Ek wil hê dat julle My
Meer en meer sal vertrou
Ek wil hê dat julle
Meer en meer aan My sal oorgee

My liefste kinders asseblief
Sien julle waarmee Ek besig is
Ek is besig om hierdie aarde te herstel
Ek is besig om julle terug te bring na My

Baie kere wonder mense
Hoekom het God ons gemaak
Hoekom het Hy Sy Seun gestuur
Hoekom wil Hy hê dat ons Hom moet dien

Dit is ‘n baie eenvoudige vraag sê Abba-God
Met ‘n baie eenvoudige antwoord
Dit is omdat Ek gemeenskap wou hê
Dis omdat Ek iemand wou hê om mee te praat

Ja My liefste kind
Ek het gekom
My Seun gestuur
Sodat ons twee weer verhouding kon hê

Dit is wat Ek die meeste mis
Sê Abba-God
Van die Tuin van Eden
Ons hemelse gepraat

Ons kon vir ure geselskap hou
Oor al die mooi dinge in My hart
Oor al die dinge wat Ek julle wou leer
Ek mis dit sê Abba-God

Ek mis die verhouding bou
Net soos julle vandag
Wou Ek ook graag iemand hê
Met wie Ek kon gesels, vir wie Ek lief kon hê

Dit is hoekom Ek julle gemaak het
Sê Abba-God
Sodat Ek vir julle kon liefhê
Sodat julle kon lief wees vir My

Sien julle dat al die
Aardse begeertes na verhouding
Ook in My hart
Dieselfde lê

Sien julle dat Ek ook
Net soos julle
Net iemand wou hê om mee te gesels
Net iemand wou hê om voor lief te wees

Dit was My hartsbegeerte
Sê Abba-God
Dat toe Ek die mens gemaak het
Ek en jy werklik een sou wees

Dit is hoekom Ek tot vandag
Die beeld van ‘n man en vrou gebruik
Bruid en Bruidegom
My liefste kinders dit was My hart vir jou en My

Ek het gehoop dat jy sou groei
In liefde en aanvaarding van My
Ek het gehoop dat almal
Ja sou bly sê

My liefste kinders
Ek weet
Ek weet dit was dalk verkeerd
Maar Ek wou so, so graag kinders saam met My hê

Ons het verlang
Om mense Ons eie te noem
Om te weet
Daar is iemand om mee te praat

My liefste kinders
Ons harte was altyd
Om eerlik te wees
Ons sou niks vir die duisternis oorlaat

Ek moes julle ‘n keuse gee
Sê Abba
Ek moes julle ‘n keuse gee
Om nader te kom of om My te verlaat

Ek sou nie ‘n God van Regverdigheid wees
As Ek dit nie toelaat
Ek moes
Ek moes julle ‘n vrye keuse gee

Ja ‘n keuse
Om by My te bly
‘n Keuse
Om jou rug op My te draai

Dit is My begeerte tot op hierdie dag
Vir mense om My hart te kom naspoor
Dis My begeerte tot op hierdie dag
Dat mense wie Ek is rerig sal opspoor

Ek het geweet dat as julle My hart kon vind
Julle vir My lief sou bly
Ek het dit geweet
Sê ons Abba-God

My hart is mooi
Dit sou Ek julle wys
Ek sou julle vertroue wen
Julle help om weer te glo in My

Sien julle Ek het julle nooit verlaat
Sien julle dat Ek tot vandag hoop
Julle het nie vir die duiwel
Ja gesê

Die wat My liefhet sê Abba Vader
Die wat My toelaat om hulle lief te hê
Weet dit is die mooiste en wonderlikste ding ooit
Om aan My te behoort

Hulle weet dat My teenwoordigheid goud is
Hulle is eintlik so dankbaar Ek het hulle gemaak
Dat ons bymekaar kan wees
Dat ons mekaar se teenwoordigheid kan bly geniet

Daar is vir haar en vir My
Niks beter
Niks beter as om vir altyd
Bymekaar te wees

My bruid het My lief sê Abba Vader
Sy het vir My ja gesê
Sy het My toegelaat
Om haar terug te bring

My hart het sy gevind
Sy het uitgevind wie Ek waarlik is
Sy weet My hart is mooi
En hoe wens sy dat ook jy dieselfde sal vind

Dis al vir generasies en generasies
Sê Abba-God
Dat Ek na hierdie mensdom
Bly uitreik

Ek het begin
Direk na die val in die Tuin van Eden
En dit is waarmee Ek
Tot vandag toe nog besig is

Om vir mense te wys
My hart was en is mooi
Om vir mense te wys
Ek het hulle vir verhouding gemaak

Om julle terug te bring na My
Om julle My hart te wys
Dit is
Wie Ek is

Asseblief vertrou My dan
Sê Abba-God
Vertrou My asseblief
En weet dat Ek jou nooit in die steek sal laat

Van die Begin was Ek daar
Elke tree
Om vir mense te wys
Julle is gemaak om verhouding met My te bou

Hoekom dink julle
Is dit die diepste begeerte van elke mens
Om lief te hê
Om liefgehê te word

Dit is die diepste vervulling
Sê Abba-God
In hierdie lewe
Om iemand te hê om voor lief te wees

Dis ook hoe dit vir My is liefste kind
My diepste verlange is vir jou
Om in verhouding met My te staan
My diepste begeerte is dit

Na die val
In die Tuin van Eden
Het die duiwel dit sy missie gemaak
Om te kyk hoeveel hy kan verlei

Om vir mense te vertel
Dat Ek alles is wat sleg is
Dat Ek agter alles is wat sleg is
Alles omdat hy nie alleen in die hel wil brand

Hy weet dat mense
Vir My kosbaar is
Hy weet Ek het hulle gemaak
Om lief te hê

Dit is wat hy wil verhinder
Hy wil nie hê dat ons verhouding bou
Hy wil hê julle moet alles wat sleg is
Van My glo

My liefste kinders asseblief
Glo vir My
Ek het julle gemaak om My lief te hê
En Ek andersom

Asseblief My liefste kinders
Moet hom nie meer toelaat
Om van ons te steel
Dit wat Ek so graag vir ons wil hê

Ek wil hê ons moet verhouding
Bly bou
Ek wil hê dat julle by die diepte en waarheid van wie Ek is
Sal uitkom

Ek wil julle liefhê
Sê Pappa-God
Ek wil julle liefhê
En julle vir My

Sal julle asseblief liefste kinders
Sal julle asseblief kom uitvind wie Ek rerig is
Moenie al die leuens glo
Wat die vyand julle vertel

Ek is nie wie hy sê Ek is
Ek is beter
10 000 miljoen kere beter
As wat hy sê

Moenie toelaat dat hy julle meer verlei
Luister asseblief wat Ek hier vir julle sê
Julle is gemaak
Om verhouding met My te bou

My Woord is WAAR
Sê Abba-God
My Woord is EWIG
Dit is iets waarop julle altyd kan staatmaak

Wie Ek is
Wou Ek so graag met julle deel
Wie Ek is
Wil Ek tot vandag toe met julle deel

Sien julle liefste kinders
Sien julle hoe julle alles verkeerd het oor My
Ek is nie die sleg wat soveel mense
Tot vandag toe nog oor My glo

Ek is mooi
My hart is goud
Julle kan My vertrou
Met alles wat julle het en is

My hart is nooit
Om te verlei
Dit het Ek
In die Tuin van Eden gesê

Al het julle hom bo My geglo
Sal Ek julle vergeef
My hart is altyd – nog van die begin –
Om julle terug te lei na My

Moenie toelaat
Dat enige iets of iemand
Die verhouding steel
Wat ons twee moet behou

My liefste kind
Ek wil My hart aanhou deel
Ek wil aanhou
Om jou hart te hoor

Jy is vir My so spesiaal
Sê Abba-God
Ek sal jou vir niks
Ooit kan verruil

Kosbaarder as goud
Mooier as die mooiste diamante
Dit is wie jy is
My kind vir My

Dankie
Dat Ek My hart kon deel
Dankie dat Ek jou meer kon vertel
Van wie Ek rerig is

My hart is altyd
Om te deel My liefste kind
My hart is altyd
Om wie Ek is met jou te deel

Dankie Abba Vader
Dat U die Antwoord is op al ons vrae
Ons wil meer leer
Ons wil U hart vertrou, baie meer as in die begin

Sal U ons asseblief help Abba
Om nooit ooit weer ons rug op U te draai
Om U te bly vertrou
Al sê die wêreld en vyand wat

Ons wil U hart vertrou
Abba
Ons wil vashou
Aan wie U rerig is

Dankie dat U ons die geleentheid gegee het
Om U te leer ken
Dankie dat U ons gemaak het
Dankie dat dit U is wat ons terugbring

Vader-God ons wil meer oorgee
Ons wil U hart leer ken
Beter en meer
Ons wil weet wie U rerig is

Abba sal U ons asseblief help
Om aan U oor te gee
Om te vertrou
Dat U van beter weet

Dankie dat U aan elke hartsdeur bly klop
Vanaf die begin tot en met nou
U het geen siel afgestaan aan die dood
Sonder ‘n hewige baklei

Ons rebellie het ons
Al baie van U weerhou
Maar Abba ons wil nie hê
Dat dit ons die Ewige Lewe sal kos

Soos stout kinders
Wil ons dan nie aanhou
Ons wil glo dat wat U in U hart vir ons hou
Baie beter is

Abba-God baie dankie dat U by ons is
Dat U ons liefhet
Dat ons die voorreg het
Om aan U vas te hou

Alles wat ons nodig het
Om ons weg terug te vind na U
Dit het U ons gegee
Ons moet dit net optel en ja sê

Dankie dat U dit
Vir ons moontlik gemaak het
Om U weer te vind
Baie, baie dankie daarvoor

Dankie liefste Koning
Dat U ons die voorreg gegee het
Die groot eer om U lief te kry
Om U te bemin

Abba U is mooier
As die mooiste goud
Dis die grootste voorreg
Om U te ken

Dankie, dankie, dankie
Dat U ons die kans gegun het
Om U te leer ken
Om U lief te kry

Alles in my wat vervulling nodig het
Dit vind ek in U
U is my begin, my einde
En alles tussen-in

Dankie dat U ons gemaak het
Met die begeerte om te bemin
As dit nie U is gaan dit
Iets of iemand anders wees

Dankie dat U ons
Vir verhoudings
Gemaak het
Dit bly die wonderlikste ding!

Vader ek wil bid
Vir elkeen wat U nodig het
Ek wil bid vir elkeen
Wat U nog nie ken

Abba mag elkeen van ons
Groei tot op die punt
Waar ons U liefde
In totaliteit innooi

Ons wil vra en ons wil hê dat U ons
Asseblief sal genees van al die lewe se seer
En dat U ons asseblief sal help
Om ons oë op U te bly hou

Dankie dat U ons kom haal het
Na die sondeval
Dankie dat ons gemaak is
Om U lief te hê

In U kry die lewe en alles totale sin
Mag elkeen wat U nog nie ken U vind
Mag elkeen wat U nodig het
U waarlik leer ken

Vir wie U is
Vir wat U beteken vir ons
U het die wêreld
Met die mooiste mooi ingekleur

Sodat ons kan sien
U is rerig
Wie U
Vir ons sê

Dankie Abba-God
Dat hierdie skepping getuig van wie U is
En wat U beteken vir ons
U is ons Rots

Elke sonsopkoms en sonsondergang
Getuig van U liefde
Grootheid en getrouheid
Teenoor ons

Dankie dat U ons so liefhet
Pappa-God
Dankie dat U U Seun gegee het
Om ons te versoen

Dit bly vir ons die grootste voorreg
Om vir U ja te sê
Hoe meer ons U leer ken
Hoe meer wil ons van U hê

Dis omdat U so mooi is liefste Koning
Dit is omdat U alles is vir ons
Ons wil nie sonder U
Op planeet aarde leef

Dis U wat alles
Mooi maak
Dis U wat alles
Die moeite werd maak

Dankie My liefste Koning
Dankie vir wie U is
U heerlikheid skyn soos die son
Daar is niemand soos U ons liefste God

Alle lof en eer
Alle prys wil ons aan U bring
U wat die Antwoord
Op al ons vrae en probleme is

Beter wil ons U leer ken
Beter en meer
Dankie Abba ons liefste Koning
Ons soek meer, ons soek alles-alles, wie U is

Aan U al die lof en eer
Vir ewig en altyd wil ons sing van genade-groot
Van die Een wat ons gemaak het
Tot die Een wat ons vandag vashou

Glorie tot U Naam
o Abba-God
Daar is niemand
Daar is net niemand ooit soos U!

Watter voorreg om U Vader te noem
Watter voorreg om U ons Prins te noem
U bruid o Lam van God
U bruid wag op U

Dankie Abba Vader liefste God vir wie U is
Blinker as die helderste middag-son
Blinker as die sterre van die hemel
Wat in die aande in ons harte inkruip

U is God
U is Lewe
U is Hoop
U is alles-alles wat ons ooit kan begeer om in hierdie lewe te hê

U ons Abba-God
U is mooier
As die mooiste mooi
Wat daar ooit sal of ooit kan wees

Halleluja, Amen.

ANKER VAN HOOP | INTIMITEIT MET GOD

Hallo daar! 👋

Wil jy graag 'n gids met 10 sleutels wat jou gaan help om te blom in verhouding met God ontvang? Sluit dan vandag aan by ons E-pos Lys. Ons beloof e-posse wat jou inspireer en toerus!

Ons stuur nie rommelpos nie! Jy kan
enige tyd jou subskripsie kanselleer.

VOLG ONS VIR MEER

INSPIRERENDE BLOGS EN GROEI SAAM MET GOD

Ons stuur nie rommelpos nie, jy kan jou subskripsie enige tyd kanselleer.

Leave a comment